OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Sportinisiatief (OSI) is op 'n gereelde grondslag besig om openbare sportfasiliteite in Oudtshoorn met onderhoud en verbeteringe te ondersteun.
Die NA Smit-swembad is een van hulle voorkeurprojekte die afgelope paar jaar. Eers is die ablusieblok op standaard gebring, toe is die dak op die pawiljoen voltooi.
Een van die groot uitdagings vir toeskouers om op die pawiljoen te kom was die meter hoë eerste trap. Danksy Makka Swart-konstruksie is die trappe by die pawiljoen ook nou gebou en is die probleem nou iets van die verlede.
Die Oudtshoorn Sportinisiatief (OSI), is in die lewe geroep nadat finansiële druk die Oudtshoorn-munisipaliteit se vermoë om sportinfrastruktuur te onderhou en uit te brei, beperk het. Dit het geleenthede vir sportbyeenkomste en die gepaardgaande ekonomiese voordele benadeel. In reaksie hierop het belanghebbendes uit die privaat sektor besluit om groter verantwoordelikheid vir die instandhouding van die dorp se sportfasiliteite te neem.
Van die grootste projekte tot dusver was die installering van 'n dak oor die pawiljoen, asook die aankoop en installering van die nodige pompstelsel by die swembad. Die Oudtshoorn-munisipaliteit het egter die heining om die swembad vervang aangesien dit gevandaliseer word deur persone wat onwettig toegang tot die swembad probeer verkry.
Klein Karoo Saadproduksie (KKS) het Maandagoggend, 30 Maart, 'n tjek ter waarde van R30 000 aan OSI geskenk vir die verdere opgradering van die pawiljoendak.
Volgens Van der Walt van OSI was die terugvoer van tweekampdeelnemers en besoekers baie positief oor die pawiljoendak wat nou skadu bied teen Oudtshoorn se uitermatige hitte.
"Om net as voorbeeld te dien, gebruik ek net tweekamp wat maar 'n klein sportsoort is. Verlede jaar se SA kampioenskappe is aan Eden-tweekamp toegeken. Dit het behels dat meer as 900 atlete en ondersteuners, ongeveer 3 000 uit 14 provinsies landwyd, Oudtshoorn vir ten minste vier dae besoek het. Teen die tariefwaarde soos deur SA Toerisme bepaal word, het Oudtshoorn se ekonomie met omtrent R10 miljoen gebaat. Daarom is dit belangrik om die sportfasiliteite in Oudtshoorn op standaard te hou. Die 2027 SA Tweekampkampioenskappe is dan ook weer deur SA Tweekamp aan Eden en Oudtshoorn toegeken!"
Vir baie jare is Oudtshoorn een van die voorkeurplekke om swemgalas en tweekampbyeenkomste aan te bied. Ongelukkig het die uitbou en onderhoud nie tred gehou nie. 'n Paar jaar gelede is 'n power poging aangewend om 'n net oor te sit en dit het egter nie eens twee weke gehou nie.
Dit het toe een van OSI se voorkeur-projekte geword om 'n ordentlike dak op die pawiljoen te sit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’