Die vieslike f-woord, lyk my, het gekom om te bly in ons prosa, poësie, sang, beeldende kunste, rolprente en op vele ander platforms.
Navorsing gedurende 2013 het getoon dat daar op daardie stadium 38 068 lirieke wêreldwyd was wat die f-woord bevat! In die film Swearnet: The Movie word die f-woord 935 keer gebruik. Die film is 112 minute lank. Dus word die f-woord 8.35 keer per minuut gebruik.
Wat my egter na my pen laat gryp het was Dean Hutton se "kunswerk" getiteld F**k White people. Landdros Daniel Tulare het nou wel bevind dat dit "…proteskuns is wat nie op grond van ras diskrimineer of op haatspraak neerkom nie".
Maar myns insiens is die f-woord ‘n gruwelike en sedelose woord wat in geen beskaafde geselskap tuishoort nie. Baie mense, veral Afrikaners, besef nie wat die woord eintlik impliseer nie. Dit kan enigiets beteken van manlike of vroulike verkragting tot verdoeming van iemand in die hel (en alles tussenin!)
Die wêreld sal ten goede verander as hierdie woord (wat gewoonlik saam met die vloekvinger gebruik word), vervang word met die "S-woord", ‘n uitgestrekte handpalm en ‘n seëngroet: "Bless white people; bless black people; bless colourdes; bless Indians; wees geseënd my broer … my suster".
Die Woord moedig ons aan om die s–woord’ te gebruik: "Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe". (1 Pet 3:9).
Ons sal niks in ons land bereik deur mekaar uit te vloek nie. Ons sal nooit ‘n nasie so kan bou nie. Kom ons gebruik eerder die s-woord en begin mekaar te seën. Laat ons T-hemde en plakkate met die seënslagspreuke dra. ‘n Druppel heuning het nog altyd meer bereik meer as ‘n beker gal…
Vloeke laat mense terugvloek. Seëninge daarenteen laat mense gemoedelik en dankbaar voel. Hulle kan nie daarteen baklei nie…
Dit is Jesus se pad tot versoening. Watter pad kies jy; die f-woord of die s-woord?