Ek lê gemaklik op die tandarts se stoel; mond wawyd oop, gereed vir my wortelkanaal behandeling.
Dan verskyn daar in my gesigsveld ‘n gesig met ‘n wit chirurgiese masker en ‘n paar groen handskoene wat ‘n klein spieëltjie aan ‘n ‘stokkie’ vashou.
Met die doodspuit sê hy verskonend ‘…Jammer, hierdie gaan ‘n bietjie seer wees…’
Hy loer rond in my mond met die spieëltjie ... ‘Ekskuus my maag rammel so, maar ek is honger!’ sê hy verleë.
Ek ontspan. Dis naby middagete en ek kan my maag ook hoor rammel.
Dan begin ons gesels oor die weer, die politiek, sy liefde vir tuinwerk en ons dae in die ’army.’ Ek maak net uh uh uh geluide om op my manier saam te gesels terwyl hy in my mond doenig is.
So nou en dan gaan kyk hy weer op die rekenaarskerm en meet en pas in my mond. Daar word verskeie X-strale geneem.
Sy bekwame ‘wit jas’ assistent (wat blykbaar sy gedagtes kan lees) gee vir hom op ‘n stadium ‘n klein buisie aan. ‘Hierdie buisie’ sê hy ‘kos R2 500. Ons voer dit van Switserland af in…’
Hy gebruik verskeie naalddun vyltjies wat hy in die tand insteek om die gaatjie skoon te maak. Daar word gesuig, geboor en ‘sement’ (my woord) word in die gaatjie inforseer. Dan word ‘n blou stuk ‘rubber’ met ‘n gat in oor my mond getrek sodat net die probleemtand sigbaar is.
Dit verhoed dat speeksel, wat bakterieë bevat, in die gaatjie kom terwyl daar aan hom gewerk word.
Vir ‘n uur lank word vyf en ‘n half jaar se tandheelkunde studies en 30 jaar se ondervinding gekonsentreer op die ‘redding’ van my een tand wat lankal oor sy rakleeftyd is.
Hy vertel so tussendeur van goeie en slegte tye in die praktyk. Daar kom soms tye wat hy twyfel of dit die moeite werd is om so hard te werk.
Dit is nie maar altyd ‘business as usual’ in die praktyk nie. Soms raak hy moeg vir die rotresies (en mediese fondse en moeilike pasiënte, dink ek.)
Hy is soms bekommerd oor hoe hy die boeke gaan laat klop aan die einde van die maand. Die preperate en apparaat is peperduur en almal moet salarisse kry.
Hy wens soms hy boer eerder êrens op ‘n lappie grond met ‘n paar vrugtebome.
Dan besef ek die man agter die masker is maar net ‘n mens soos ek. Hy raak ook moeg en honger; twyfel soms.Hy hou daarvan om in sy tuin te werk en is lief vir klein dingetjies soos verkleurmannetjies.
Hy is nederig dankbaar vir pasiënte wat vanaf ander provinsies op Mosselbaai kom vakansie hou en dan spesiaal by sy praktyk ‘n draai gooi om hulle ‘tande te doen.’ Dit laat hom voel dat hy tog êrens iets reg doen.
Uiteindelik is ons klaar. My rug voel tam van die heeltyd in dieselfde posisie lê. Ek wonder hoe voel sy rug om vir ‘n uur lank so krom te staan?
Op ‘n stadium verbeel ek my ek het klein sweetdruppeltjies op sy voorkop sien vorm.
Ek skud sy hand dankbaar. Hy lag net. Dis ‘business as usual…’ Ek stap verlig uit die spreekkamer. Die volgende pasiënt skuur by my verby.
My maag rammel nou gevaarlik! Ek wonder wanneer gaan hy vandag eet en hoe sy rug vanaand gaan voel?