1 Timoteus 4:15 NLV
Hier is 'n paar algemene wanpersepsies oor sukses: 1) Ons dink dat sukses onmoontlik is, dus kritiseer ons dit. Ons wil glo dat die lewe maklik moet wees, so ons neem aan dat indien enigiets moeilik is, dit sukses onmoontlik maak. Wanneer sukses dan buite ons bereik bly, gooi ons die handdoek in en sê, 'Wie het dit in elk geval nodig?' Ook, wanneer iemand wat ons as minder verdienstelik as onsself beskou, suksesvol is, raak ons baie ontsteld.
2) Ons dink sukses is iets mistiek, dus soek ons daarna. Die skrywer/entrepreneur Seth Godin sê: 'Ons moet ophou om net vir weerligstrale uit te kyk. Jy wen nie 'n Olimpiese medalje met 'n paar weke se intensiewe oefening nie. Groot maatskappye [en kerke] spring nie net oornag op nie. Alle suksesverhale word op presies dieselfde manier gebou: bietjie vir bietjie, stap vir stap.' Daar is nie kortpaaie nie, jy moet bereid wees om die prys te betaal.
3) Ons dink dat sukses toevallig gebeur, dus hoop ons daarvoor. Ons sê, 'O, hy of sy was maar net op die regte tyd op die regte plek.' Die kans dat dit so gebeur het, is dieselfde as om die lotery te wen - 18 miljoen teen een. As jy ernstig daaroor is om sukses te behaal, sal jy saamstem met die eienaar van die klein winkeltjie wat die volgende kennisgewing in die venster opgeplak het: 'Die 57 reëls vir sukses.
Reël een: Lewer die goedere. Reël twee: Die ander 56 maak nie saak nie!'
Paulus het sy formule vir sukses met Timoteus gedeel, en dit kan in alle areas van die lewe aangewend word: 'Gee jou volle aandag aan hierdie sake. Werp jouself in jou werksaamhede sodat almal jou vordering kan sien.'