Die fluitjie het om 07:30 geblaas en die sinkers het oral in die dam geplons met elke hengelaar wat gehoop het dat sy doepa die grotes se aandag sal trek. Die dam was vol kos en die vis was aanvanklik lekkerbekkig, maar het gaandeweg voor die aanloklike aas geswig.
Altesaam sewe spanne van ses hengelaars elk het deelgeneem met die een span van Eden-hengelklub wat met die louere weggestap het.
Die oewer is in drie sones opgedeel en die hengelaars moes behoorlik uithaal en wys.
Die meeste vis in die senior afdeling is deur Hein Binnedel (Eden Swart) en George Thom (Kango), met vyf vis elk, gevang. Koos Groenewalt (Eden Swart) het met sewe vis in die meesters afdeling gewen.
Martin Kruger (Eden Blou) was eerste in die junior afdeling met drie vis en Marlande Nel (Eden Blou) was die voorloper in die vroue afdeling met 3 vis.
Die swaarste baber van 3,535 kg is deur Jannie Crafford (DKD) geland en Jean Peo (Hartebeeskuil 1) het die swaarte karp (2,66 kg) gevang.
Die Suid-Kaap Varswater Oewerhengelunie het besluit om nie meer 'n President- en Premierliga aan te bied nie, maar om alles as een groot gesaamentlike byeenkoms aan te bied.
Die swaarste sakke was:
- Seniors: Jannie Crafford (DKD) 7,21 kg.
- Meester: Koos Groenewalt (Eden Swart) 6,96 kg.
- Juniors: Martin Kruger (eden Blou) 3,55 kg.
- Dames: Marlande Nel (eden Blou) 2,42 kg.
- Span-uitslae: 1. Eden Swart (60 pte); 2. Kango Blou (51 pte): 3. Eden Blou (45 pte); 4. DKD (43 pte); 5. Hartebeelskuil 1 (41 pte); 6. Kango Geel (39 pte); 7. Hartebeeskuil 2 (31 pte).