OUDTSHOORN SWEMNUUS - Swemmers van die Freda Barnard-swemskool op Oudtshoorn sluit die huidige swemseisoen af met die verowering van verskeie medaljes.
Drie swemmers het medaljes in die Swem Suid-Afrika (SSA) kompetisie losgeswem.
Anelize Vermeulen wat in die vlak 3-kompetisie meegeding het, het goud in 50 m-vryslag en silwer in die 100 m- en 200 m-borsslag gewen. Jada Coetzee het op dieselfde vlak silwer in die 400 m- en 200 m-vryslag, sowel as brons in die 50 m- en 200 m-rugslag verower.
Jancke Potgieter het in die vlak 2-kompetisie goud in 50 m- en 100 m-borsslag ontvang.
Die trotse span van die Freda Barnard swemskool is, van links: Anelize Vermeulen, Delia van Biljon (afrigter), Ninke Griffioen, Christiaan van Biljon, Jancke Potgieter en Jada Coetzee. Foto: Verskaf
Ninke Griffioen en Christiaan van Biljon wat in die Eden-distrik se junior swemspan opgeneem is, het ook puik gevaar in die distrikskompetisie waaraan hulle deelgeneem het,
Ninke het uitgeblink met vyf goue medaljes (100 m-rugslag, 50 m- en 100 m-vryslag, 50 m-vlinderslag en 100 m-vryslag aflos). Christian het goud in 100 m-vryslag en 100 m-aflos en silwer in 50 m-vryslag gewen.
Om hulle veelsydigheid te bewys het Anelize en Jada ook op nasionale vlak onder die toptien met die SA tweekampkampioenskap geëindig.
Delia van Biljon, die span se afrigter sê hulle prestasie is nog meer merkwaardig omdat Oudtshoorn nie soos baie ander plekke, 'n binnenshuise swembad het waar swemmers regdeur die jaar kan oefen nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'