Die skeurtandhaai van 182kg was meer as 'n handvol om suksesvol op die strand te kry en Bernard van Wyk en Dries Grundlingh moes inspring om Baard te help. Die hulp was baie welkom aangesien geen vis gegaffel mag word nie en dus kan só ‘n grote maklik wegkom in die vlak water. Die dapper helpers moes die water in om die flou gespookte haai uit die branders te kry.
Die kompetisie het in die Plettenbergbaai-omgewing onder ideale omstandighede plaasgevind. Die hoeveelheid vis gevang is ook ‘n goeie aanduiding hiervan. Altesaam 110 hengelaars het deelgeneem en ‘n totaal van 158 vis is gevang. Al 158 visse is weer lewend teruggesit.
Alhoewel die reusehaai George se kanse 'n aansienlike hupstoot gegee het, was dit Stilbaai wat in die A-liga met die louere weggestap het. Die B-liga is deur Outeniqua gebuit terwyl Atlantic die beste in die C-liga gevaar het.
Die volgende kompetisie vind op Saterdag, 25 Januarie plaas.
Uitslae:
- A-liga: 1 Stilbaai 418.80; 2 George 259.46; 3 Outeniqua 212.04; 4 Atlantic 177.38; 5 Knysna 146.70; 6 Triton 49.02; 7 Mosselbaai 5.68.
- B-liga: 1 Outeniqua 72.24; 2 Knysna 51.25; 3 Atlantic 39.93; 4 Weermag 29.56; 5 Stilbaai 24.95; 6 George 21.09; 7 Triton 0.34.
- C-liga: 1 Atlantic 23.47.