OUDTSHOORN NUUS - 'n Pa en seun-span van Oudtshoorn, Alan en Christian Wheeler het Saterdag 10 Februarie die Midmar Mile-swemkompetisie in een uur en drie minute voltooi.
Die Midmar Mile is die grootste ope-swemkompetisie in die wêreld, waar swemmers teen tyd swem.
Dit word in die Midmardam buite Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, aangebied met deelnemers wat van oor die wêreld reis om deel te neem.
Vir Christian (11) was dit nie net sy eerste Midmar-swem nie, maar 'n reusestap in die rigting om sy droom te bewaarheid - om eendag oor die Engelse kanaal te swem.
"Christian is vasbeslote om sy Engelse kanaal-swemdroom te bewaarheid. Hy het maande lank geoefen voor die Midmar-swem en is baie opgewonde om dit te kon voltooi.
"Hy is nou meer vasbeslote om aan te oefen ten einde die Engelse kanaal aan te pak," vertel Alan.
Volgens the Channel Swimming Association het 30 mense sover daarin geslaag om oor die kanaal tussen Engeland en Frankryk te swem.
Daar word gemeld dat 80 pogings onsuksesvol was.
Margaret Duncan was die eerste Suid-Afrikaner wat suksesvol was in haar poging.
Sy het in 1930 in 'n tyd van 16:17 oor die kanaal geswem.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'