"Ons het gehoop op meer inskrywings," het Craig Parkin gesê. "Maar dis die eerste keer in baie jare wat ons hier 'n hengelkompetisie aanbied en ons kan net hieruit leer om die volgende kompetisie nog beter te laat verloop. Dis nie net 'n hengeldag nie, maar 'n gesinsdag, want ons het donkietêksies wat begeleide toere aanbied, 'n springkasteel en wipmat vir die kinders wat nie lus is vir visvang nie. Dié onverwagse koue het ons almal bietjie onkant betrap en ons sal ons volgende kompetisie, hopelik nog hierdie jaar, gedurende die warmer somermaande aanbied."
Craig en sy vrou Jackie is die eienaars van die Stompdriftdam-oord en hulle het die kompetisie aangebied in samewerking met Renier van der Merwe, Alet Thysse en Coenie Meyer, almal bestuurslede van die Kango-vars-waterhengelklub op Oudtshoorn. Die hoofborge was El Shaddai Marine, Wynne's, Pitstop, Pennypinchers, B & T Suppliers van hengelgerei en aas, Coetzee en van den Bergh Prokureurs asook Cape Nature.
Die eerste prys van die juniors is ingepalm deur Sean Williams met 'n karp van 1,540 kg en die tweede prys is gewen deur Herman Kruger met sy karp van 1,500 kg. Die eerste plek vir dames is ingeneem deur Ohna Zaayman met 'n karp van 1,900 kg, tweede plek deur Heida Botha (1,700 kg) en derde plek deur Elezane van de Rust (1,610 kg).
Die mans se eerste prys was a kano en spane ter waarde van R5000 wat gewen is deur Jaco Nel vir sy reuse baber van 7,380 kg. Die tweede prys is verower deur Ben Vrey vir sy baber van 6,850 kg en die derde prys het gegaan aan Piet Botha vir sy karp van 2,710 kg.
"Alhoewel dit die oggend koud was, het dit 'n heel aangename dag uitgedraai," het Alet Thysse gesê. "Ons gaan kyk of ons nie die volgende kompetisie in Oktober kan hou nie, wanneer dit bietjie warmer is. Daar is definitief belangstelling in hierdie soort kompetisie - mense het van so ver as Worcester en die Kaap gekom en almal reken hulle kom weer."

Die hengeldag verlede Saterdag by die Stompdriftdam was ‘n groot sukses. Van links: Jaco Nel (wenner van die eerste prys), Ben Vrey (tweede plek), Piet Botha (derde plek), Rene Wentzel (El Shaddai Marine in George), Heidi Botha (tweede plek - dames) en Ohna Zaayman (eerste plek - dames).
ARTIKEL EN FOTO'S: LEON NELL