OUDTSHOORN NUUS - Hugo Erasmus (24), plaaslike renbootjaer en sy spanmaat Raynor Becker, het op 23 Maart in Monte Carlo die Union Internationale Motonautique (UIM) toekenning ontvang nadat hulle September verlede jaar drie wêreldkampioenskaptitels in Frankryk ingepalm het.
By hierdie toernooi is hulle in die Pro-Stock klas as die 'Surf-,Longhaul'-en 'Circuit'- kampioene aangewys, terwyl hulle ook die algehele wenners was.
Erasmus, wat op Oudtshoorn gebore is en drie jaar gelede Riversdal toe verhuis het, sê dat dit vir hom 'n ongelooflike voorreg was om met koninklikes te kon aansit vir ete.
Om my land op so wyse te kon trots maak is 'n oomblik in my lewe wat altyd by my sal bly, het hy gesê.
Die oorhandiging is deur Monte Carlo se koninklike egpaar Albert Grimaldi en Charlene Whitstock bygewoon. Whitstock is 'n voormalige SA olimpiese swemmer.
Hy en Becker kon tydens hul besoek 'n tydjie afknyp om die wêreldbekende Formulu-1 baan en ander besienswaardighede in die prentjiemooi Monte Carlo te besoek.
Die internasionale seisoen het reeds begin met een van die wedrenne wat op 9 Mei in Stilbaai plaasvind en regstreeks deur SuperSport gebeeldsend sal word.
Erasmus en Becker wil graag hul borge en ondersteuners bedank en nooi die publiek uit om hulle in Stilbaai te kom aanmoedig.
Hugo Erasmus en Raynor Becker in aksie. Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'