OUDTSHOORN NUUS - Die Eden-hengelvereniging se eerste winterliga-kompetisie het hengelaars 'n keuse gegee om lyne nat te maak by visvangplekke van sover as Stilbaai tot Knysna.
Die kompetisie het oor twee dae, van 22 tot 23 Junie gestrek. Knysna-hengelklub het die beste gevaar en 87,72 punte ingesamel. Knysna se Wesley Rapson het die beste vangste opgelewer en 67,54 punte ingesamel. Die topjunior hengelaar was Xandre Coetzee (o.16) van Stilbaai-hengelklub en het 17,48 punte losgehengel.
Johan van Rensburg van Mosselbaai-hengelklub het met 24,36 punte die prys as topmeester gewen.
Marina Fuchs van Triton-hengelklub is met 1,35 punte as die beste vrouehengelaar aangewys.
Die grootste eetbare vis, 'n 12,18 kg-steenbras, is deur Van Rensburg gevang.
Rapson het die swaarste oneetbare vis, 'n 18,63 kg-sloephaai ingeweeg.
'n Totale massa vis van 313, 59 kg is deur die 73 hengelaars geland. Dit sluit in 69 oneetbare vis en 41 eetbare vis.
Banie Vermeulen, woordvoerder vir die Eden-hengelvereniging, sê al die vis is lewendig teruggeplaas om bewaring te bevorder.
Keith Lotter met 'n kabeljou van 9,7 kg.
Henrico Sholtz met 'n sloephaai van 12,13 kg.
Posisies van die klubs na afloop van die eerste kompetisie:
A-liga (klub, punte)
- Knysna-Team Extreme: 87,72
- George-Bosvarke: 58,17
- Stilbaai-Stilmonsters: 52,48
- George-Wortels: 37,94
- Triton-Bronze Whalers: 37,69
- Outeniqua-Clutchcables: 37,37
- Mosselbaai-Otters: 25,78
- Stilbaai-Assessins: 18,34
- Stilbaai-Barbarians: 10,24
- Triton-Ninjas: 6,64
- Knysna-Piesangs: 6,21
- Triton-Woelwaters: 3,59
Dave Viljoen met 'n galjoen van 4,22 kg.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'