OUDTSHOORN NUUS - Een van Oudtshoorn se top jong swemmers, Jada Coetzee het Saterdag omtrent skoonskip gemaak en 15 medaljes ingepalm. Sy was een van ses swemmers van die Freda Barnard-swemskool op Oudtshoorn wat die afgelope naweek aan die 37ste Freda Barnard Invitational Gala deelgeneem het.
Ongeveer 385 swemmers van 25 klubs uit die Wes- en Oos-Kaap het aan die gala deelgeneem. Deelnemers se ouderdomme het gewissel van 7 tot 44 jaar.
Volgens Delia van Biljon, die span se afrigter, het die ses swemmers goed presteer en sy het hulle geloof vir hulle toewyding en harde werk.
Jada Coetzee wat ook in die Wes-Kaap skolespan opgeneem is, het tien goue, drie silwer-, en twee bronsmedaljes losgeswem.
Anlizé Vermeulen was die ander ster van die span en het alles uitgehaal en weggestap met twee goue, vyf silwer- en een bronsmedalje.
Die span van die Freda Barnard-swemskool is van links: Ninke Griffioen (persoonlike tye verbeter SA vlak twee tyd bereik), Kari Griffioen (persoonlike tye verbeter en swem SA vlak twee tyd bereik), Jada Coetzee (medaljewenner), Jancke Potgieter (persoonlike tye verbeter, SA vlak twee tyd bereik), Anlizé Vermeulen (medaljewenner),Christiaan van Biljon (persoonlike tye verbeter en SA vlak een tyd bereik) en Delia van Biljon (Afrigter) Foto: Lluwelyn Coetzee
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'