OUDTSHOORN TENNISNUUS - Hy sien daarna uit om Suid-Afrika ‘n tweede keer in die buiteland by ‘n wêreld tenniskampioenskap te verteenwoordig.
So sê Oudtshoorn se bekende tennisspeler (en koerantman), die 76-jarige Garnett Wicomb, wat na Kroasië op pad is vir die 38ste ITF Super Seniors Wêreld span- en individuele kampioenskappe.
Die spankampioenskap word van 14 tot 21 September en die individuele kampioenskap van 22 tot 29 September in Umag, Kroasië aangebied.
Wicomb was verlede jaar ook lid van die span wat in Orlando, Florida in die VSA gespeel het.
Die wedstryde in Kroasië word op rooi kleibaNe, soortgelyk aan die van Roland Garos, gespeel.
Wicomb is die nommer een speler in die Suid-Afrikaanse 75+-span van drie. Sy twee spanmaats is Pieter Claassen en Willie Lubbe (kapt) van Gauteng.
Hy is lid van die Wesbank Tennisklub en speel gereeld vir Eden in interprovinsiale toernooie.
Wicomb sê die kampioenskap is taai met van die wêreld se beste veteraan tennisspelers in hul onderskeie ouderdomsgroepe en dat hy graag beter sal wil doen as verlede jaar toe hy op kort kennisgewing in die span ingesluit is.
Dit sal ook die eerste keer wees dat hy aan die individuele kampioenskap gaan deelneem, iets waarna hy verskriklik uitsien.
Hy speel in die dubbelspel saam met Raj Naganna van Kwazulu Natal en die moontlikheid bestaan dat hy ook ‘n maat vir die gemengde dubbels kan vind.
Wicomb is die eerste bruin tennisspeler van die SWD wat vir Suid-Afrika gekies word.
Hy was die eerste keuse vir vanjaar se span nadat hy in Desember verlede jaar die Eden Ope, in Januarie vanjaar die WP Ope en in Mei die Kaapstad Ope 75+-enkelspeltitels gewen het.
In vanjaar se SA kampioenskap in Bloemfontein het hy ook die beste tot dusver gevaar toe hy tot die halfeindstryd deurgedring en in drie stelle verloor het.
Die koste om jou land in ‘n wêreld tenniskampioenskap te gaan deelneem is volgens Wicomb enorm en anders as ander sportsoorte kry spelers nie finasiele steun van die staat of Tennis Suid-Afrika (TSA) nie.
“Danksy my kinders, familie, viende en die Oudtshoorn-munisipaliteit kon ons daarin slaag om vir die vliegtuigkaartjies, visum, reisversekering en inskrywingsgeld vir die individuele kampioenskap te betaal. Al wat nou nog oorbly is fondse vir twee weke se hotelkostes,” sê Wicomb.
Enigeen wat hom hiermee kan help en ‘n bydrae wil lewer kan hom by 072 4686 456 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'