OUDTSHOORN NUUS - Die Wesbank-tennisklub het Saterdag geskiedenis gemaak toe 'n gemengde span van die klub die eerste Eden Growthpoint Topguns-streekkampioenskap gewen en met prysgeld van R10 000 vir die klub weggestap het.
Die kampioenskap word deur Growthpoint Eiendomme en Tennis Suid-Afrika (TSA) geborg.
Die wenners van elke provinsie neem in 2018 aan die nasionale kampioenskap deel waarvoor prysgeld van R30 000 op die spel is. Met die Eden-kampioenskap wat Saterdag by die George-tennisklub plaasgevind het, het vier spanne, George-tennisklub, Wesbank-tennisklub van Oudtshoorn, George Tennisklub Loaded (George-tennisklub se tweede span) en Bullet Proof Knysna van die Knysna-tennisklub mekaar die stryd aangesê en mekaar behoorlik met aanskoulike tennis opgekeil.
Die kampioenskap het in 'n rondomtalie-formaat plaasgevind met 'n mansdubbels, vrouedubbels en 'n gemengde dubbels met spesiaal aangepaste reëls.
Die spanne van George-tennisklub en Wesbank-tennisklub was na die dag se spel gelyk met ewe veel punte waarna Wesbank as wenners aangewys is omdat hy George vroeër die dag met 2-1 geklop het.
Die wenners (Wesbank-tennisklub) en naaswenners (George-tennisklub) saam met Debra Hyde, toernooidirekteur. Van links is Jacques de Beer, Rida Bester, Wehmeyer Ferreira, Christine van Coller, Hyde, Lizelle Fourie, Eduard Steyls, Charl Opperman en Karin Deltenre.
ARTIKEL & FOTOl GARNETT WICOMB
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'