OUDTSHOORN TENNIS-NUUS - Die vrouespan van die Wesbank-tennisklub het Saterdag 'n puik oorwinning van 5-0 oor Knysna behaal in die eersteliga kompetisie van die Eden-tennisvereniging terwyl die mans B-span in 'n spannende wedstryd net-net met 2-3 teen Beaufort-Wes verloor het.
In die wedstryd teen Knysna was dit veral die belowende 14-jarige Patricia Esterer wat die oog gevang het.
Esterer het haar enkelspelwedstryd teen Tessa Micic met 6-3, 7-6 gewen en saam met Hanle Cronjé vir Micic en Mary-Ann Beviss in die dubbelspel met 6-4, 6-2 geklop.
In die tweedeliga wedstryd tussen Wesbank B en Beaufort-Wes het, was dit die besoekers wat eerste bloed geruik het toe Kenneth Paulse vir Pieter Barnard in die eerste enkelspel met 6-3, 6-1 geklop het.
Corlu Nel het met 'n oorwinning van 6-2, 7-5 oor Selwyn Visagie sake gelyk gemaak.
Hilmar Jack en Alec Little het in 'n spannende dubbelspelwedstryd net-net daarin geslaag om Danie Steyl en Pieter Schoeman met 4-6, 6-4, 7-6 te klop om Beaufort Wes te laat voorloop.
Hierna het Kenneth Paulse en Little ook met Barnard en Steyl afgereken om die wedstryd te beklink.
Die telling was 6-3, 7-6.
Nel en Schoeman het Visagie en Jack in die laaste dubbels met 4-6, 6-2, 6-1 geklop, maar die koeël was reeds deur die kerk.
Die ander tellings in die wedstryd tussen Wesbank en Knysna se vroue was soos volg:
Enkelspel
Christine van Coller k Retha Matthee 6-7, 6-4, 6-2;.
Dubbelspel
Rida Bester en Hanle Cronjé klop Debra Hyde en Nary-Ann Beviss 6-3, 6-2; Rida Bester en Christine van Coller k Retha Matthee en Debra Hyde 6-4, 7-5.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'