OUDTSHOORN TENNISNUUS - Ongekende Covid-19 uitdagings in 2020 het 'n interessante invloed op die aktiwiteite van die Wesbank-tennisklub gehad. So word afgelei uit die jaarverslag van die voorsitter van die klub, John Marais, tydens die onlangse algemene jaarvergadering.
Die bestuur van die klub is tydens die vergadering aan dieselfde bestuurslede toevertrou wat tans uit John Marais (voorsitter), Ernst Kok (visevoorsitter), Theunis Kruger (tesourier), Susan Botha (sekretaresse), Jacques de Beer (ledewerwing), Dirk Potgieter (onderhoud) en Hanlé Kok (klubaktiwiteite) bestaan.
Volgens Marais het spel op die bane na vlak 5-verslappings (binne protokol), aansienlik toegeneem.
"Ons was in die gunstige posisie om afrigters te kon akkommodeer. Studente wat gewoonlik op ander plekke speel kon ook van ons fasiliteite gebruik maak en gesinne kon die bane benut om sommer net houe te kom slaan," het Marias gesê.
Die bestuur van die klub is volgens Marais voortdurend agter die skerms aan die werk om nog spelers op die bane te kry en klubgroei te stimuleer. Buiten die klubkampioenskappe word 'n rondomtalietoernooi in die vooruitsig gestel en deelname aan ligas en ander kampioenskappe gaan steeds voort.
Die klub neem tans deel aan die Eden gemengde ligakompetisie waar hulle steeds onoorwonne is, terwyl die gewilde Fritz Meissner 190's spankompetisie op 31 Julie by die klub plaasvind.
Volgens Marais is inisiatiewe ook aan die gang om die bane van nuwe oppervlaktes te voorsien en fasiliteite te onderhou. Deel hiervan is om geleenthede te gee aan besighede om advertensiespasie in Kerkstraat te benut en kan Marais hiervoor gekontak word by hhmarais@hetnet.nl.
Enigeen wat belangstel om by die klub aan te sluit kan gerus vir Jacques de Beer by 082 897 8262 skakel of kontak by jacques.debeer@pamgolding.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'