OUDTSHOORN NUUS - Die Wesbank-tennisklub van Oudtshoorn het die naweek met trots as naaswenners uit die stryd getree tydens die Wes-Kaapse Amex-klubkampioenskap wat op die bane van die Strand-tennisklub plaasgevind het.
Dit volg nadat hulle vroeër vanjaar die Amex Eden-distriksklubkampioenskap gewen het.
In die eindstryd moes Wesbank die knie buig voor die sterk span van Kampsbaai-tennisklub. Hul vertoning het steeds vir hulle 'n plek in die nasionale Amex-klubkampioenskap verseker, wat van 29 Augustus tot 1 September vanjaar by Sun City beslis sal word.
Die span van Jacques de Beer (kaptein), Marcell Petzer, Madri van Wyk en Rida Bester, het saam met George-tennisklub (wat tweede geëindig het in die Eden-streek) deelgeneem aan die Wes-Kaapse uitdunne.
Hierdie spanne het kragte gemeet met die topklubs van die Wes-Kaap en Boland.
Volgens De Beer was die weerstoestande ideaal en het die spanne buitengewone tennis gelewer. Onder die deelnemers was verskeie top-SA spelers, onder andere Jody Klaassen (broer van die bekende Raven Klaasen), Thando Longwe-Smit (huidige SA nommer 9 mansspeler), Jess Schultz (SA se nommer 4 o. 18-vrouespeler) en Cooper McCarthy (nommer 6 o. 16-vrouespeler).
Madri van Wyk, een van Wesbank se sterspelers, is 'n voormalige WTA- en SA Fedbeker-speler, wat die span se aanslag versterk het.
In die A-afdeling eindstryd het Petzer en De Beer in die mansdubbels te staan gekom teen Jody Klaassen en Ben McClurp en met 3 - 6, 3 - 6 verloor. Van Wyk en Bester het daarop hul beste in die vrouedubbels gelewer om die telling gelyk te maak, maar moes uiteindelik in 'n strawwe drie-stel wedstryd buig teen Jess Schultz en Suzi van der Merwe in die gemengde dubbels.
Pinelands-tennisklub het derde geëindig, met George-tennisklub in die vierde plek.
De Beer is uiters trots op die span se prestasie: "Alhoewel ons meer as veterane tussen die tieners en jonger spelers gesien is, kon ons kompeterende tennis speel omdat dit in dubbels meer gaan oor vernuf en taktiek en nie suiwer oor krag en spoed nie. Vir 'n klein dorpie soos Oudtshoorn hoef ons glad nie terug te staan vir die stede se groter tennisklubs nie."
Hy het ook Oudtshoorn se tennistoekoms geloof en verwys na belowende jong spelers soos Fourie Delport (o. 14), wat die afgelope naweek die Mini-toernooi in George gewen het, en Tameré Stewart (o. 16), albei onlangs terug van hul deelname in Engeland as deel van die SA skolespan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’