OUDTSHOORN TENNISNUUS - Die tweedeliga mansspan van die Wesbank-tennisklub het Saterdag op sy tuisbane net-net daarin geslaag om Karoo Park-tennisklub van Beaufort-Wes in 'n spannende Eden-tennisvereniging ligawedstryd met 3-2 te klop.
Karoo Park het goed begin toe Kenneth Paulse vir Paul Fourie in die eerste enkelspel met 6-3, 6-3 geklop het. Die 13- jarige Zander Petzer het sake gelyk gemaak toe hy vir Selwyn Visagie met 7-6, 6-3 verslaan het.
Wesbank het voorgeloop toe Pieter Schoeman en Danie Steyl hul dubbelspel teen Eddie de Bruyn en Leonard Plaatjies met 6-4, 7-5 gewen het.
Petzer en Steyl het die tweede dubbelspel teen Visagie en de Bruyn na 'n taai stryd met 7-5, 3-6, 3-6 verloor wat die twee spanne weer gelyk laat trek het.
Schoeman en Fourie het in die beslissende dubbelspel die wedstryd vir Wesbank beklink deur vir Paulse en Plaatjies in drie stelle met 3-6, 6-1, 6-2 te klop.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'