OUDTSHOORN TENNISNUUS - Thinus Eloff het Saterdag net-net daarin geslaag om sy enkelspeltitel van die Wesbank-Tennisklub te behou toe hy die jong Marcelle Petzer (16) in die eindstryd met 8-6 geklop het.
Die twee het mekaar ook verlede jaar in die eindstryd gepak.
Die 14-jarige Patricia Esterer is die vroue-enkelspelkampioen nadat sy vir Anandi de Waal (13), in die eindstryd met 8-5 geklop het.
Die kampioenskap is vanjaar in 'n nuwe korter formaat gespeel met al die spelers wat in 'n rondomtalie teen mekaar gespeel het.
Jacques de Beer en nog 'n belowende jong speler, die 13-jarige Louis Uys, het sake om die derde en vierde plekke uitgespook. De Beer het uiteindelik as wenner uit dié stryd getree.
Patricia Esterer. Foto's: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'