OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se bekende "tennistweeling", Christine van Coller en Rida Bester, het onlangs 'n skitterprestasie op die tennisbaan behaal toe hulle die bronsmedalje tydens die 2022 ITF Individuele Wêreld Seniors Tenniskampioenskappe in Amerika verower het.
Van Coller en Bester wat al vir baie jare as dubbelspaar saamspeel, was lede van die SA 55+ span wat aan die wêreld spankompetisie deelgeneem het en daarna ook vir die individuele kompetisie ingeskryf het.
Van Coller, wat deesdae in Hartenbos woon, en tans die eerste gekeurde is in die 55+ enkelspel in Suid-Afrika, was vir jare lid van die Wesbank-tennisklub, maar is tans lid van die Hartenbos-tennisklub.
Volgens Jacques de Beer van die Wesbank-tennisklub wat ook lid en kaptein was van die SA 50+ mansspan, was daar 16 pare wat vir die 55+ dames dubbelskampioenskappe ingeskryf het wat in Palm Beach Gardens, Florida (Miami) gespeel is.
Van Coller en Bester het op die groen kleibane in die 1ste ronde die 4de gekeurde paar van Peru, Monica Valdez en Tita Zea, met 6 - 1, 6 - 1 geklop en daarna in 'n spannende wedstryd die span van Kanada, Jill Gardner en Adrienne Simmons, met 7 - 6, 2 - 6, 14 - 12 geklop.
Hulle het daarna in een van die halfeind-stryde met 3 - 6, 3 - 6 teen Mariana Matilde en Liliana Patron van Argentinië, die uiteindelike kampioene, verloor en daarmee die bronsmedaljes verower.
Nog 'n speler van die Wesbank-tennisklub, Elmarie Lategan, was kaptein van die 75+ super seniors vrouespan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'