OUDTSHOORN NUUS - Garnett Wicomb, tennisster van Oudtshoorn, is opgeneem in een van die super senior tennisspanne om in Oktober aan die Wêreldspankampioenskappe in Orlando, Florida, te gaan deelneem.
Die kampioenskappe vind van 8 tot 13 Oktober plaas.
Wicomb sal saam met Giulio Salottolo, George Rough (kaptein) en Willem Lubbe in 'n span speel. Hulle speel in die 75-80 jaar ouderdomsgroep. Wicomb, lid van die Wesbank-tennisklub, is 'n steunpilaar in die span, met Rough en Lubbe wat hom nog nie kon wen nie.
Sharon van der Schyff, koördineerder van Tennis Suid-Afrika (TSA), het gesê TSA se deelname aan die wêreldkampioenskappe het ten doel om die beste prestasie te behaal in elke ouderdomskategorie.
Wicomb het Woensdag gesê: "Ek wou nog altyd vir Suid-Afrika speel. Dit was nog altyd my droom om my land oorsee te verteenwoordig. My droom het waar geword."
Wicomb speel sedert die ouderdom van 16 jaar tennis en was bykans 20 jaar die SWD-kampioen.
TSA voorsien elke speler net van 'n sweetpak. Alle ander kostes, soos SA kleure, reis en verblyf moet deur Wicomb self gedek word.
Enige persoon wat hom wil borg, kan hom skakel by 072 468 6456.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'