OUDTSHOORN NUUS - Nog drie lede van die Wesbank-tennisklub, Hanlé Cronjé, Elmarie Lategan en Garnett Wicomb is gekies om Suid-Afrika vanjaar in die buiteland te gaan verteenwoordig.
Hulle sal September in Umag, Kroasië aan die ITF Super Senior Wêreldtennis-kampioenskap deelneem.
Christine van Coller en Rida Bester is reeds vroeër gekies vir die SA 50+ span wat in Augustus in Duitsland aan die ITF Senior Wêreldkampioenskap gaan deelneem.
Cronjé is ingesluit in die 60+span, Lategan in die 70+span en Wicomb in die 75+span.
Lategan en Wicomb was verlede jaar ook in die span wat in Orlando, Florida gaan speel het.
Dit is Lategan en Van Coller se agtste keer dat hulle SA kleure kry. Bester het dit vyf keer gekry, terwyl dit Cronjé en Wicomb se tweede keer is.
Die spelers kan self besluit of hulle ook aan die individuele wêreldkampioenskap wil deelneem.
Die spelers is verantwoordelik vir al die koste en ontvang slegs 'n sweetpak van Tennis Suid-Afrika.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'