OUDTSHOORN NUUS - Theunis Kruger is as nuwe voorsitter van die Wesbank-tennisklub gekies.
Hy volg Danie Steyl op wat hom nie weer verkiesbaar gestel het nie. Ernst Kok is onbestrede tot visevoorsitter herkies.
Die res van die bestuur vir 2018/19 is Susan Botha (sekretaresse), Kruger (tesourier), Jacques de Beer, Rida Bester, Hanlé Kok, Hugo van der Berg, Celliers Petzer, Dirk Potgieter en Garnett Wicomb (addisionele lede).
Steyl het in sy voorsittersverslag die bestuur en klublede bedank wat die belange van die klub soos 'n kleinood bewaar en van hul tyd en geld beskikbaar stel om die belange van die klub te bevorder.
Kruger het die klublede meegedeel dat, "die goeie nuus vir klublede is dat ledegeld onveranderd bly, balfooie met net R5 opgeskuif word tot R20 vir sosiale dae en juniors steeds R15 betaal.
"Besoekers sal voortaan R30 betaal om van die bane gebruik te maak en R40 om onder te speel."
'n Voorstel is aanvaar dat 'n eerlikheidskassie by die klub aangebring word vir nie-lede wat van die bane gebruik maak wanneer lede van die klub nie teenwoordig is nie.
Die jaarlikse klubkampioen-skap sal vanjaar oor drie naweke gespeel word met die eindstryde aan die einde van Mei.
Rida Bester en Garnett Wicomb (regs) saam met die uittredende voorsitter van die Wesbank-tennisklub, Danie Steyl.
'n Voorstel is aanvaar dat die top agt spelers in een afdeling speel en die res in 'n rondomtalie, om meer spelers te betrek. 'n Kategorie vir meer senior spelers word ook gestig.
'n Besluit is ook geneem dat die klub se jaarlikse kermis vanjaar op Saterdag 21 Julie gehou sal word.
Spesiale prestasiesertifikate is tydens die vergadering oorhandig aan Garnett Wicomb en Rida Bester wat Suid Afrika verlede jaar in wêreldkampioenskappe in Orlando en Miami, Florida (VSA) verteenwoordig het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'