SUID-KAAP TENNIS-NUUS - Die Eden-tennisspanne het Noord-Boland Saterdag op Oudtshoorn in hul jaarlikse vriendskaplike kragmeting oortuigend met 30-18 geklop, maar in twee ouderdomsgroepe die wind van voor gekry.
Die ope span het met 12-6 gewen en die 60+span met 10-2, maar die 40+ mansspan het met 2-4 die onderspit gedelf terwyl die 50+span met 6-6 gelykop gespeel het.
In die ope afdeling het Eden se mans sowel as die vroue met 5-1 gewen, maar tweede viool in die gemengde dubbels gespeel waar Noord-Boland met 4-2 geseëvier het.
In die kragmeting tussen die twee 50+spanne het Eden se mans met 1-3 verloor terwyl die vroue met 3-1 gewen het.
Sake het in die gemengde dubbels met 2-2 gelykop geëindig.
Eden se 60+span was heeltemal te sterk vir die besoekers. Die mans, sowel as die vroue, het met 3-1 gewen terwyl Noord-Boland nie een van die vier gemengde dubbels kon wen nie.
Dit was 'n dag se goeie tennis wat in 'n goeie gees gespeel is en die Wesbank-tennisklub verdien lof vir die puik reëlings.
Die sekretaris van die Eden-tennisvereniging, Danie Steyl, het die klub namens die unie bedank.
Potjiekos is vir middagete voorgesit met braaivleis vir aandete en ’n genotvolle aandfunksie.
Spesiale reëlings is ook getref vir spelers om na die televisie-uitsending van die rugbytoetswedstryd tussen Suid-Afrika en Argentinië te kon kyk.
Freddy Lotter Foto's: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'