RUGBY NUUS - Zee Ngohlekana, 'n soldaat by die Oudtshoorn Infanterieskool, is weer gekies vir die Springbok-vrouerugbyspan vir die November-toetsreeks wat vanaf 31 Oktober tot 27 November in Frankryk sal plaasvind.
Die Springbok-vrouespan vergader op 26 Oktober in Pretoria en vertrek daarna na Frankryk op 31 Oktober.
Oudtshoorn Courant het ook onlangs berig dat sy aan twee toetswedstryde tussen Suid-Afrika en Kenia deelgeneem en haar stempel behoorlik afgedruk het.
Zee vertel dat sy in haar noppies was toe sy die oproep ontvang wat bevestig dat sy deel uitmaak van die Springbokgroep wat Suid-Afrika in Frankryk gaan verteenwoordig.
"Dis maar die oproep waarvoor enige speler wag, en ek besef dat ek uithalerspel na vore sal moet lewer om my plek in die span te sement."
Die Infanterieskool se offisierbevelvoerder kol. Zola Mbi, het gesê dat hy en die personeellede van die Infanterieskool trots op Ngohlekana se prestasies is en beloof dat al die personeellede ingeskakel sal wees om na haar wedstryde te kyk.
Die program vir die komende toets is soos volg:
- Springbok-vroue teen Frankryk 6 November
- Springbok-vroue teen Wallis 13 November
- Springbokke vs Barbarians 27 November
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'