As jy eers deur die meule is, kan niks jou meer verras nie. En daardie reël van 'n gepunte bal wat na enige kant kan spring geld veral in uitspeelwedstryde wanneer daar nie tweede kanse is nie. Wanneer die geleentheid hom voordoen moet 'n man voluit speel.
Só het Prins Albert se Willing Hearts-rugbyspan vanjaar ontluik as een van die seisoen se groot verrassings. Onder die kalm hand van bekende skeidsregter, Jason Jaftha, het die span ''n een-voudige filosofie op die veld gestalte gegee.
Hulle pen die opposisie vas met goeie skopwerk, hulle lak met mening en doen dit boonop vir 80 minute met durf. Geen verrassing dus dat die span die eerste posisie in die Karoo-liga kon inneem nie, 'n enkele punt voor Oudtshoorn-rugbyklub in die tweede plek.
Verlede Saterdag het Prins Albert ook in die kwarteindstryd amok gemaak deur George-rugbyklub met 34-26 te klop. Halftyd het Prins Albert 20-13 voorgeloop.
W Konstabel (buitesenter), H Nel (vleuel) en L Jaftha (skrumskakel) het gaan druk. M Keyser se geleerde skopvoet het twee verdoelskoppe en twee strafskoppe deur die pale gejaag.
Verdere skade is aangerig met skepdoele deur Keyser, Jaftha en G Hendriks (losskakel).
'n Prins Albert-span wat soos die Blou Bulle rugby speel? Moenie verras wees nie, maar dis waar die vergelyking eindig. Dié manne staan 'n kans om die beker huis toe te bring.
ARTIKEL: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS

Prins Albert Willing Hearts se eerste rugbyspan het vanjaar goeie rekenskap van hulself in die SWD Presidentsliga gegee en is `n aanspraakmaker om die eindtrydl te wen.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'