RUGBY NUUS - Wie gaan die All Blacks klop? Dit is die groot vraag wat op almal se lippe is nadat dié klub se A-span Saterdag in 'n SWD Presidentsligawedstryd op die Bridgton-sportterrein 'n sterk span van Spring Roses met 27-12 kafgedraf het.
Die All Blacks het met hierdie sege sy onoorwonne status vanjaar voortgesit en spog nou met agt agtereenvolgende oorwinnings in dié liga! Vir Spring Roses het die gevaarligte reeds begin flikker toe die swart truie 17 onbeantwoorde punte in die eerste helfte aangeteken het.
Alhoewel hierdie wedstryd in triestige weerstoestande gespeel is, het albei spanne die groot skare deurentyd op hul voete gehou met skitterende ondernemende spel. Met die spogregte wat in hierdie derbywedstryd op die spel was het gemoedere by tye hoog geloop, maar het sportmanskap op die einde van die dag geseëvier.
Spring Roses kon in die tweede helfte wel daarin slaag om twee troosdrieë te druk, maar teen daardie tyd het die swart truie se ondersteuners reeds die vreugdevure aan die brand gesteek.
Vir All Blacks het Vinchenzo Adams (skrumskakel), JP van Vught (senter) en Everton Manewil (slot) goeie wedstryde gehad. Dié span beklee tans na die eerste ronde van die SWD Presidentligatoernooi die algehele tweede plek op die punteleer.
In die Karoostreek is All Blacks egter baas met 37 punte na agt wedstryde. Damon Gysman, voorsitter van All Blacks, het na die wedstryd gesê dat die spelers en afrigtingskorps tevrede kan wees met wat hulle tot dusver vanjaar in dié liga vermag het.
"Ons moet egter streng daarteen waak om nie te selfvoldaan te raak nie. Dissipline is die wagwoord en ons spel moet namens ons praat" het hy gesê. Hierdie twee topspanne kom in die tweede ronde van dié rugbytoernooi op 6 Julie by die Bridgton-sportterrein weer teenmekaar te staan.
Spring Roses se volgende wedstryd is die naweek teen die sukkelende Adias op die Oudtshoorn-sportterrein.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'