OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Oudtshoorn-rugbyklub het verlede Vrydag daarin geslaag om die voorloper in die Presidentsliga, Collegians, op die Bridgton-sportterrein met 25-15 te klop. Die rustydtelling was 18-15 in Oudtshoorn se guns. Dit was Collegians se eerste nederlaag van die seisoen.
Oudtshoorn was voorlangs té sterk vir Collegians en het hulle vermorsel in die skrums. Die agttal se oorheersing het die weg vir 'n goeie oorwinning gebaan.
Volgens Oudtshoorn se hoofafrigter, Keith Meyer, was die wedstryd in goeie gees gespeel.
"Collegians se aanvallende spel was puik en Oudtshoorn het skitterend verdedig op hul eie doellyn. Die telling het in die eerste helfte telkens wipplank gery. Oudtshoorn het eerste punte aangeteken, maar Collegians het halfpad in die eerste helfte hard teruggekom en die voortou geneem."
Die wedstryd het egter in die 37ste minuut 'n nuwe wending ingeneem toe Oudtshoorn skitterend terug geveg het. Hulle het na 'n 11-15 agterstand 'n verdoelde drie gedruk en die rustydtelling op 18-15 te staan gebring.
Dit het Oudtshoorn weer selfvertroue gegee. Die tuisspan het nie gaan lê nie en met groter gebiedsvoordeel en oorgenoeg balbesit vir meer as 20 minute in die opponent se kwartgebied geboer.
Collegians kon egter nie daarin slaag om deur Oudtshoorn se hardnekkige verdediging te kom nie.
Oudtshoorn kon in die 64ste minuut 'n teenaanval loods. Na goeie samespel tussen die voor- en agterspelers kon hul linkervleuel, Shaun van der Schyff, vir die tweede keer oor die doellyn geduik.
Collegians het hierna weer verwoed aangeval en kan hulself ongelukkig ag dat hulle nie nog punte by hul rustydtelling kon voeg nie.
Volgens Meyer het Oudtshoorn se agttal in geheel 'n barshou gespeel en "sou dit onregverdig wees om enige name uit te sonder".
Agterlangs het Van der Schyff die oog gevang met sy sterk lopies en was ook beloon met twee juweeldrieë.
Julian Fillies, sekretaris van Collegians, sê hulle kon die wedstryd gewen het.
"Ons het ongelukkig te veel foute gemaak wat ons die wen gekos het. Aanslane met die doellyn oop voor ons en feit dat die speler mekaar nie op die veld vertrou nie het ons die wedstryd gekos." Dit was een van die beste derby wedstryde waar geen genade gevra of betoon is nie. "Om 'n speler uit te sonder, is nie maklik nie want almal het hul kant gebring. Oudtshoorn, met hul sterk voorspelers, kon nie vermag wat hulle wou nie. Collegians se voorspelers het hul kant gebring. Agterlangs het die verdediging gehou, want daar was geen deurkom kans," het Fillies gesê.
Oudtshoorn se puntemakers was Van der Schyff wat vir twee drieë gesorg het. Emile Lambrecht het die ander drie gedruk. Anru Tolken het twee drieë verdoel en een strafskop tussen die pale deurgejaag.
Vir Collegians het die losskakel, Shedwick Sauls twee drieë gedruk. Jason Plaatjies het beide drieë verdoel.
Collegians se B-span het met 5-10 teen Oudtshoorn B verloor.
Collegians reis die naweek na Willowmore, waar hulle teen die tuisspan gaan kragte meet. Oudtshoorn speel Saterdag teen Beaufort-Wes op die Rec en die hekke open reeds om 13:00.
Shedwick Sauls van Harlequins druk een van sy skitterdrieë.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'