OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Die SWD Rugby Voetbal-unie (SWDRVU) gaan nie verder aandag gee aan ondersteuners en klublede se klagtes oor die bestuur van die Bridgton Rugby voetbalklub (BRVK) nie. Hennie Baartman, president van SWDRVU het op 14 Mei in 'n skrywe gesê die unie het 'n hele aantal skrywes oor probleme by die Bridgton rugbyklup ontvang.
"Die SWD bestuur het op 12 Mei 2019, na die deeglike bespreking van die skrywes eenparig besluit om nie in te meng in die klub se huishoudelike sake nie en dat BRVK hul eie interne probleme moet oplos."
Volgens Baartman se reaksie is die kernsaak dat rugby gespeel moet word en dit blyk dat die unie nie voortaan gaan reageer op klagtes ten opsigte van die bestuur van die klub nie, tensy wedstryde hierdeur geraak word.
In die skrywe sê hy: "Vir die SWDRVU is dit belangrik dat rugby binne in die klub beoefen en gespeel word- en dit is wat wel gebeur. Indien dit andersom was, en spelers is ongelukkig en rugby word nie gespeel nie en hul vra die SWDRVU om hul by te staan sou ons dit oorweeg het."
Die ondersteuners en klublede wat die afgelope aantal maande gepoog het om SWDRVU te oorreed om by die bestuur van die klub in te gryp, sê die antwoord van Baartman maak geen sin nie.
"Dit beteken dus dat 'n klub se bestuur kan doen net wat hulle wil, hulle kan bestuurslede aanstel of afdank, afrigters vervang en voortgaan sonder dat enige bestuursvergadering met 'n kworum gehou word, solank daar net rugby gespeel word."
Volgens 'n verteenwoordiger van die groep het SWDRVU wel al by ander klubs waar daar vrae oor finansies en bestuurskwessies was, ingegryp.
Prokureursbrief
In 'n prokureursbrief wat op 30 Januarie aan die SWDRVU gestuur is vra die prokureurs namens hulle kliënte onder andere dat 'n AJV gehou moet word aangesien daar nie een in Oktober 2018 gehou was soos wat voorgeskryf word nie.
Tydens die AJV moet die kwessie van vyf bestuurslede wat bedank het hanteer word.
In reaksie op die brief het SWDRVU op 11 Februarie gesê aangesien die name van die kliënte nie in die prokureursbrief genoem word nie, kan daar nie bevestig word of die klaers opbetaalde lede van die klub is nie.
Verder bevestig SWDRVU dat Adv Benito Metembo en die oorblywende bestuurslede deur SWDRVU erken word as die bestuur van Bridgton RVK.
'n Versoekskrif, onderteken deur 36 BRVK lede en ondersteuners is op 1 Mei aan Metembo gestuur waarin hy versoek word om 'n algemene vergadering van alle lede te belê.
Uit dokumente wat aan die media gegee is, blyk dit dat die bestuurskwessie reeds sedert die begin van 2018 in verskeie skrywes aangespreek word.
In Baartman se reaksie op 14 Mei sê hy dat geen korrespondensie verder oor die kwessie gevoer sal word nie en dat SWDRVU ook nie op hierdie stadium verder kommentaar gaan lewer nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'