Dit was die boodskap van die president van SWD-rugby, Hennie Baartman, aan die o.13 Cravenweekspan, kort voor hul vertrek na Durban verlede week. Baartman het gesê dat die unie trots is op hul laerskole bestuurspan wat jaarliks goeie werk lewer.
"Elkeen van julle het jul insluiting in die span te dankie aan jul harde werk en jul ouers se opofferinge. Julle is jul ouers baie dank verskuldig," het Baartman gesê. "Julle moet na Durban gaan om die Suid-Kaap trots te maak en met die doel om die toernooi te wen."
Dit blyk dat die span die woorde ter harte geneem het. In hul eerste wedstryd, Maandag teen Vrystaat, het SWD met 10-8 koning gekraai. SWD se drieë is gedruk deur Xander Botha (skrumskakel) in die 24ste minuut en Marno April (buitesenter) in die 48ste minuut. Dinsdag het SWD ook die Blou Bulle met 19-17 geklop. Auburn Bezuidehout (vleuel) en Marno April het gaan druk. Hendrik Victor (losskakel) het verdoel.
Wedstryde is Maandag en Dinsdag gespeel, en dan weer Donderdag en Vrydag, met Woensdag as rusdag.
Uitslae van dag 1: Griekwas 36 - Zimbabwe 12, Valke 13 - Namibië 0, SWD 10 - Cheetahs 8, Boland 43 - Griffons 12, Grens 52 - Blou Bulle 10, Luiperds 37 - Grens 5 Landelik, Westelike Provinsie 56 - Pumas 0, Goue Leeus 15 - KwaZulu-Natal 12.
Uitslae van dag 2: Luiperds 32 - 14 Griekwas, Blou Bulle 17 - 19 SWD, Cheetahs 12 - 24 Pumas, Namibië 5 - 12 Griffons, Zimbabwe 31 - 27 Grens Landelik, OP 22 - Goue Leeus 7, Boland 14 - KwaZulu-Natal 6, Grens 14 - Limpopo 12, WP 10 - Valke 8.
SWD spog ook vanjaar met die swaarste speler in die toernooi. Stephan Posthumus laat die skaal op 116kg kreun en hy is 1.79m lank. Volgens syfers is daar 32 spelers by die toernooi wat langer is as 1.87m en 15 seuns weeg 80kg of meer.
Die SWD o.13 Cravenweekspan by die Riempie Hotel Estate in Oudtshoorn, kort voor hul vertrek na Durban. Foto: Jacques Swart
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'