OUDTSHOORN RUGBY-NUUS - Spring Roses is terug in die eerste plek op die Presidentsliga se punteleer nadat hulle vir Harlequins Magte met 22-17 geklop het.
Die rustydtelling was 17-5 in Roses se guns. All Blacks RVK was vir ‘n wyle in die eerste plek op die punteleer nadat hulle Beaufort-Wes United met ‘n pragvertoning in Beaufort-Wes geklop het.
Roses wat verlede week nie gespeel het nie, het uit die staanspoor op alle silinders gevuur. Die soldate moes bontstaan om al die gate toe te stop. Roses het met briljante hardlooprugby drie skitterende drieë in die eerste helfte gedruk.
Vroeg in die tweede helfte het die skrumskakel, Sedrick Esau Roses se bonuspuntdrie gedruk. Die skouspel in die eerste helfte het egter in ‘n slagveld in die tweede helfte ontaard. Die skeidsregter het links en regs geelkaarte uitgedeel na geniepsige spel deur beide spanne se spelers. Roses en Harlequins het met verloop van die wedstryd elk drie geelkaarte gekry. Harlequins is ook met ‘n rooikaart gestraf nadat Esau deur 'n gevaarlike hoogvat platgetrek is.
Tientalle strafskoppe is ook teen Roses gegee wat Harlequins terug in die wedstryd gebring het. Roses kon ook nie in die tweede helfte hul hande op die bal kry om hul pragspel van die eerste helfte voort te sit nie.
Karel Gerhardus, Roses se afrigter se hy was nie baie tevrede met hoe die wedstryd in die tweede helfte hanteer is nie. "Dis 'n skande wat hier gebeur het. Al wat ons wil doen is rugby speel sonder dat 'n span bevoordeel word en sonder dat ons benadeel word."
Jeremy Jullies bars deur Harlequins se verdediging. Foto's: Ebenezer Titus
Vir Roses het Riaan van Wyngaardt, Heinrich Erasmus en Aubrey Karelse voorlangs uitgeblink. Agterlangs was Esau, Domenic Smit en Jeremy Jullies kookwater. Ook Dillan van Vuuren het sy kant gebring.
Driedrukkers vir Roses was Van Vuuren, Smit, Esau en Ursheon Flink. Smit het met een doelskop geslaag.
Roses se B-span het hulle wedstryd met 24-5 teen Harlequins gewen. Vir Roses het Ben Fortuin, Piet Veldman, Suttner Abrahams en Wessel Baliso drieë gedruk. Fortuin het met 2 doelskoppe geslaag.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'