OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-rugbyklub het weer sy buiging gemaak in die SWD-Presidentsliga. Die eens Premierligakampioene het verlede jaar weer opgestaan, die Karooliga gewen en hulself begin opwerk in SWD-klubrugby.
Vrydagaand 23 Maart het hulle hul eerste Presidentsligawedstryd vir 2018 gespeel en teen die gedugte Spring Roses te staan gekom.
Spring Roses se ondervinding was vir Oudtshoorn 'n strawwe verwelkoming om weer in dié liga te speel.
Emile Lamprecht het die Oudtshoorn goed aangevoer, maar Spring Roses se ervaring was net te veel en het hulle aan die voortou gehou. Die rustydtelling was 12-5 in Roses se guns.
Terug op die veld is Oudtshoorn se tempo gebreek met verskeie geelkaarte teen hulle, wat Spring Roses se voortou na 27-12 gerek het. Oudtshoorn se karakter van wyle Jan Lotz se era het weer opgeflikker en met 10 minute se spel oor, het hulle 14 punte aangeteken.
Ten spyte van die 26-27 verloor, is Ferdie van Rensburg, Oudtshoorn se klubvoorsitter, positief oor die res van die seisoen spel.
"Die Presidentsliga is hard en vinniger in tempo, maar ons sal aanpas en die nodige aanpassings maak. Een ding is wel seker. Ons is hier om te kompeteer en gaan beslis nie net die getalle volmaak nie. As ons die laaste 10 minute in 'n suksesverhaal kon omskep, gaan ons 'n groot inpak op hierdie liga maak.
"Die manne is reg daarvoor en die afrigtingspan is oorgehaal."
Spring Roses se tweede span het met 19-17 gewen.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'