So het die uitvoerende burgemeester van George, raadsheer Charles Standers, as gasspreker tydens die toekenningsplegtigheid van SWD Rugby gesê.
"Ons is baie keer geneig om in 'n gemaksone te verval nadat ons 'n doelwit bereik het. Dit is moeilik om op die kruin van die golf te kom, maar verg harder werk en meer toewyding om daar te bly," het hy gesê.
Volgens Standers het hy Evergreens gekomplimenteer met die kampioenskap van die Premierliga, maar hulle R10 000 belowe as hulle hul titel aanstaande jaar suksesvol verdedig.
"Die geskiedenis het ons geleer dat spanne net nie daarin kan slaag om hul titels suksesvol te verdedig nie, want hulle is geneig om op hul houere te rus as hulle die kruin van die golf bereik het," het hy gesê.
Volgens Standers is sport die ideale medium vir nasiebou en die taal wat almal verstaan.
"Sportprestasies strek oor politieke en etniese grense en ons behoort dit tot almal se voordeel aan te wend.
Van die sportliggame, plaaslike regering, provinsiale regering en klubs het 'n rol te speel tot die ontwikkeling en welsyn van ons daorp en sy mense.
Dit is 'n ideale voertuig om die enorme agterstande uit te wis.
"Ons moet onsself sien as ware Suid-Afrikaners en nie toelaat dat ons van stryk gebring word nie. Kom ons omring ons met die teenwoordigheid van positiewe mense," het hy gesê.
Die President van SWD Rugby, mnr Hennie Baartman, het alle moontlike rolspelers uitgenooi om 'n belang in rugby te bekom.
"Ons het almal se betrokkenheid nodig om in ons doelwitte te slag. SWD rugby het groot planne, maar ons kan dit nie op eie houtjie bereik nie.
Ons het baie talentvolle mense onder ons en het nie nodig om buite die streek se gernse te gaan soek om rolspelers te vind nie. Ons moet net bereid wees om almal ons deel by te dra," het hy gesê.
Die feit dat die meerderheid klubs in die SWD nie eens die moeite gedoen het om by die funksie op te daag nie, het 'n wanklank aan 'n andersinds suksesvolle geleentheid gegee.
Onder die bekerwenners was net Evergreens van Pacalsdorp, Riversdal Blues en Spring Roses verteenwoordig. Die meerderheid van die bekers het op die tafel bly staan nadat die afwesige klubs nie eens verskoning aangeteken het nie.
Behalwe die klubs is ook die top skole-rugbyspelers asook verskeie Arende-spelers wat in die Southern Kings-oefengroep was, met sertifikate en madaljes vereer.

'n spesiale Arende-das is tydens die prysuitdeling aan die uitvoerende burgemeester van George, raadsheer Charles Standers en voorsitter van die SWD Sportraad, mnr Goliath Munro, oorhandig. Hier ontvang Munro (links) sy das van die president van SWD Rugby, mnr Hennie Baartman. Fotos: Jannie Meyer.