OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Groot drama het verlede Woensdagaand by die Bridgton-sportterrein afgespeel toe die skeidsregter, Jason Japhta, in die wedstryd tussen Bridgton en Crusaders as voorsorgmaatreël deur spelers van Crusaders van die veld gelei is.
Japhta (SWD-skeidsregter) se besluit om 'n aanslaan deur Crusaders tydens die laaste beweging van die wedstryd nie aan die tuisspan toe te ken nie, was met misnoeë deur die toeskouers begroet.
Die vier minute amptelike speeltyd wat oorgebly het in die wedstryd was ook glo reeds verstreke. In daardie stadium het Bridgton met 31-27 voorgeloop en op koers vir 'n oorwinning.
Crusaders het egter na die omstrede aanslaan, die bal hersirkuleer en 'n drie in die hoekie gedruk om Bridgton-ondersteuners se harte te breek om die wedstryd met 32-31 te wen.
Teleurgestelde ondersteuners van Bridgton het direk na die wedstryd op die veld saamgedrom en antwoorde van Japhta geëis. Dis toe dat spelers van Crusaders vir Japhta en die lynregters onder bewaking na die kleedkamer begelei het.
Die Oudtshoorn Courant het die gevolg agterna gesit en 'n informele onderhoud met Japhta oor sy omstrede besluite gevoer.
"Ek kon nie 'n skrum aan Bridgton toeken nie, want Crusaders het tegnies nie die bal aangeslaan nie. Die speler van Crusaders het die bal uit sy hande verloor, weer onder beheer gebring, en agtertoe geklap om te verhoed dat die bal die grond raak," het Japhta verduidelik.
Op 'n vraag waarom hy nie die wedstryd afgeblaas het toe die toegekende vier minute verstreke was nie het hy gesê dat ondersteuners moet onthou dat daar 'n verskil tussen speeltyd en stoptyd is. "Die vier minute was dus tegnies verstreke, maar volgens die reëlboek was daar nog speeltyd oor omdat ek die horlosie gestop het wanneer daar nie spel was nie. Dit kon dalk die illusie geskep het dat ek ekstra minute van speeltyd toelaat wat geensins so is nie."
Dit moet ook genoem word dat Japhta 'n strafdrie in die tweede helfde aan Bridgton toegeken het en ook 'n drie van Crusaders verwerp het.
Volgens Japhta is die uitslag 'n ware weerspieëling van die wedstryd en voel hy dat die wedstryd regverdig deur homself en die lynregters beoordeel is. Dié wedstryd, wat onder spreiligte gespeel is, was andersins in goeie sportmangees gespeel.
Eldridge van Dyk, nuutaangestelde afrigter van die Bridgton A-span, het na die wedstryd gesê dat sy span 'n gulde kans verspeel het om die hoogaangeskrewe Crusaders te klop. "Alhoewel Japhta se hantering van die wedstryd nie baie konsekwent was nie berus die klub hom by die uitslag"
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'