OUDTSHOORN NUUS - Groot drama het gisteraand by die Bridgton-sportterrein afgespeel toe die skeidsregter (Jason Japhta) in die wedstryd tussen Bridgton en Crusaders as voorsorgmaatreël deur spelers van Crusaders van die veld gelei is.
Japhta (SWD-skeidsregter) se besluit om ‘n aanslaan deur Crusaders tydens die laaste beweging van die wedstryd nie aan die tuisspan toe te ken nie, was met misnoë deur die toeskouers begroet.
Die vier minute amptelike speeltyd wat oorgebly het in die wedstryd was ook glo reeds verstreke. In daardie stadium het Bridgton met 31-27 voorgeloop en op koers vir ‘n oorwinning. Crusaders het egter na die omstrede aanslaan die bal hersirkuleer en ‘n drie in die hoekie gedruk om Bridgton-ondersteuners se harte te breek om die wedstryd met 32-31 te wen.
Teleurgestelde ondersteuners van Bridgton het direk na die wedstryd op die veld saamgedrom en antwoorde van Japhta geëis. Dis toe dat spelers van Crusaders vir Japhta en die lynregters onder streng bewaking na die kleedkamer begelei het.
Die Oudtshoorn Courant het die gevolg agterna gesit en 'n informele onderhoud met Japhta oor sy omstrede besluite gevoer.
"Ek kon nie 'n skrum aan Bridgton toeken nie, want Crusaders het tegnies nie die bal aangeslaan nie. Die spelers van Crusaders het die bal weer onder beheer gebring en agtertoe geklap om te verhoed dat die bal die grond raak," het Japhta verduidelik.
Op 'n vraag waarom hy nie die wedstryd afgeblaas het toe die toegekende vier minute verstreke was nie, het hy gesê dat ondersteuners moet onthou dat daar 'n verskil tussen speeltyd en stoptyd is. "Die vier minute was dus tegnies verstreke, maar volgens die reëlboek was daar nog speeltyd oor omdat ek die horlosie gestop het wanneer daar nie spel was nie. Dit kon dalk die illusie geskep het dat ek ekstra minute van speeltyd toelaat wat geensins so is nie."
Volgens Jahpta is die uitslag 'n ware weërspeeling van die wedstryd en voel hy dat die wedstryd regverdig deur homself en die lynregters beoordeel is. Dié wedstryd, wat onder spreiligte gespeel, was andersins in goeie sportmanskapgees gespeel.
Eldridge van Dyk, nuutaangestelde afrigter van die Bridgton A-span, het aangedui dat hy 'n formele klagte by die SWD Rugby Unie aanhangig gaan maak.
"Al het Crusaders die wedstryd gewen soek ek my span se 5 punte vir 'n oorwinning. Ek gaan ook 'n versoek indien dat SWD Rugby vir Jason Japhta met 'n rooi kaart penaliseer," het Van Dyk gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'