OUDTSHOORN RUGBYNUUS - All Blacks-rugbyklub se A-span het Saterdag sy sesde oorwinning van die seisoen behaal toe hy Adias op die Bridgton-sportterrein in 'n SWD Presidentsligawedstryd gemaklik met 34-17 gewen het.
Tans bevind All Blacks homself in die tweede plek op die algehele punteleer. Die swart truie het van meet af in die vaste fasette van die spel gedomineer met Adias se spelers wat hulself gereeld in tru-rat bevind het.
In hierdie opsig moet daar veral erkenning aan die jong skrumskakel, Vinchenzo Adams, gegee word wat sy span met die taktiese vaardigheid van 'n generaal, All Blacks gereeld op die voorvoet gehou het. Slim teenaanval-skoppies van dié hotklou het Adias deurentyd in hul eie helfte vasgepen.
Sy blitsvinnige balverspreiding was ook daarvoor verantwoordelik dat die span se snellers gereeld voorvoet-bal ontvang het waarin hulle behoorlik gedy het. Teen die einde van die eerste helfte het All Blacks reeds met 24-5 voorgeloop met slegs 'n wonderbaarlike terugvegpoging wat Adias in die tweede helde sou kon red.
Dit was die span van Volmoed egter nie beskore nie met All Blacks wat eenvoudig nie hul voet van die spreekwoordelike petrolpedaal afgehaal het nie. All Blacks het in die wedstryd ses drieë gedruk, en in die proses 'n welverdiende bonuspunt verdien.
Everton Manewil (Rots) bars met brute krag oor die doellyn vir sy drie.
Foto's: Wyndham Ewerts
Adias se staatmaker vleuel, Charlton Prinsloo, het met sy gereelde dartellopies moedig tot die einde probeer en was instrumenteel in die twee drieë wat sy span in die tweede helfte kon druk. Dit was egter mosterd na die maaltyd.
Vir All Blacks het Colan Winster (agsteman), Adion Klate (agsteman), Everton (Rots) Manewil (slot) en Muchiano Rondganger (skrumskakel) elk een drie gedruk.
Damion Januarie (losskakel) het twee drieë gedruk. Die skrumskakel, Vinchenzo Adams, was met twee doelskoppe suksesvol.
All Blacks se volgende wedstryd is 15 Junie teen Uniondale op die Bridgton-sportterrein. Die nuutaangestelde afrigter van Adias, Ivan Delport, het Saterdag na dié wedstryd aan die Oudtshoorn Courant gesê dat daar harde werk voorlê indien sy span volgende jaar weer in die SWD Presidentsliga wil speel.
Lional Prinsloo. Adias se vorige afrigter, het verlede week besluit om te bedank, en gaan volgens hom eers volgende jaar weer aktief by rugby-afrigting betrokke raak. Dié span van Volmoed is verlede jaar bevorder nadat hy (onder Prinsloo se afrigterskap) eerste in die Karoo-streekliga geëindig het.
Adias kon egter in sewe wedstryde vanjaar nog net een wedstryd wen.
All Blacks-ondersteuners vier hul span se oorwinning.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'