OUDTSHOORN RUGBYNUUS - All Blacks-rugbyspan se A-span het Saterdag sy sesde oorwinning van die seisoen behaal toe hy Adias op die Bridgton-sporterrein in 'n SWD Presidentsligawedstryd gemaklik met 34-17 ore aangesit het.
Tans bevind All Blacks homself in die tweede plek op die algehele punteleer. Die swart truie het van meet in die vaste fassette van die spel gedomineer met Adias se spelers wat hulself gereeld in tru-rat bevind het.
In hierdie opsig moet daar veral krediet aan die jong skrumskakel Vinchenzhio Adams gegee word wat sy span met die taktiese uitgeslapenheid van 'n generaal All Blacks gereeld op die voorvoet gehou het.
Slim teenaanval-skoppies van dié hotklou het Adias deurentyd in hul eie helfde vasgepen.
Sy blitsvinnige balverspreiding was ook daarvoor verantwoordelik dat die span se snellers gereeld voorvoet-bal ontvang het waarin hulle behoorlik gedy het. Teen die einde van die eerste helfde het All Blacks reeds met 24-5 voorgeloop met slegs 'n wonderbaarlike terugvegpoging wat Adias in die tweede helde sou kon red.
Dit was die span van Volmoed egter nie beskore nie met All Blacks wat eenvoudig nie hul voet van die spreekwordelike petrol-pedaal afgehaal het nie. All Blacks het in dié wedstryd 6 drieë gedruk, en in die proses 'n welverdiende bonuspunt verdien.
All Blacks-ondersteuners vier hul span se oorwinning.
Adias se staatmaker vleuel, Charlton Prinsloo, het met sy gereelde dartel-lopies moedig tot die einde probeer en was instrumenteel in die twee drieë wat sy span in die tweede helfde kon druk. Dit was egter mosterd na die maaltyd.
Vir All Blacks het Colan Winster (agsteman), Adrian Klate (agsteman), Everton (Rots) Manewil (slot) en Muchiano Rondganger (skrumskakel) elk een drie gedruk.
Jefnie Kiewiets (buitesenter) van All Blacks in aksie.
Damion Januarie (losskakel) het twee drieë gedruk. Die kookwater skrumskakel, Vinchenzio Adams, was met twee doelskoppe suksesvol. All Blacks se volgende wedstryd is 15 Junie teen Uniondale op die Bridgton-sportterrein.
Die nuutaangestelde afrigter van Adias, Ivan Delport, het Saterdag na dié wedstryd aan die Oudtshoorn courant gesê dat daar harde werk voorlê indien sy span volgende jaar weer in die SWD Presidentsliga wil speel.
Lional Prinsloo. Adias se vorige afrigter, het verlede week besluit om te bedank, en gaan volgens hom eers volgende jaar weer aktief by rugby-afrigting betrokke raak.
Dié span van Volmoed is verlede jaar bevorder nadat hy (onder Prinsloo se afrigterskap) eerste in die Karoostreekliga geeindig het. Adias kon egter in 7 wedstryde vanjaar nog net net een wedstryd wen.
Muchiano Rondganger, skrumskakel, se tong hang uit van pure lekkerte. Hier is hy op pad doellyn toe.
Die skrumskakel Vinchenzhio Adams, se skopvoet is vanjaar goud werd vir sy span.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'