OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Die Sentraal Karoo munisipale-rugbyspan het verlede Saterdag in winderige weersomstandighede hul teenstanders van Bitou-munisipaliteit op Albertinia met 39-32 geklop en as algehele wenners in die SWD munisipale-skildreeks geëindig.
Teen rustyd was die telling 10-13 in die guns van Bitou.
Sentraal Karoo het die vorige week die munisipale span van Knysna in 'n naelbytstryd met 30-29 geklop om hul plek in die eindstryd te bespreek.
Volgens die hoofafrigter van die Sentraal Karoo-span, Claud Hendriks, kan sy span se oorwinning toegeskryf word aan 'n ware spanpoging. "Die agter- en voorspelers het goed kombineer op die aanval, maar dit was op die einde die verdediging wat die wen vir ons verseker het."
Drieë deur Jaco Hendriks (losskakel), Kennedy Horn (vleuel), Marshall Keyser (heelagter), Wilfred Vries en Jonell de Wee (albei flanke) asook die strafdrie het die oorwinnng verseker.
Hendriks het ook met twee doelskoppe en 'n strafdoel geslaag. Hy het ook die speler van die wedstryd toekenning, speler met die meeste punte, en ook speler van die toernooi ontvang.
Sentraal Karoo munisipale-rugbyspan
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'