Gallery
RUGBY NUUS - 'n Tuisfinaal vir die SWD Arende op Outeniquapark in die eerste divisie van die Curriebekerreeks, is 'n moontlikheid. Maar voordat daaraan gedink kan word, is daar eers môre, Saterdag 18 Junie, om 14:00 'n belangrike hekkie in Gqeberha (Port Elizabeth) waaroor die Arende moet kom.
Die span speel dan teen die OP Olifante in 'n halfeindronde.
In die ander halfeindronde speel die Black Lions van Georgië teen die Griffons in Welkom. As die Arende deurdring na die eindronde en die Black Lions wen, is die eindronde op Outeniquapark.
FOTOGALERY: Tuisfinaal vir die SWD Arende
Die Arende het afgelope Saterdag sekergemaak dat hulle na 'n halfeindronde deurdring toe hulle die Grens Bulldogs oortuigend met 45 - 7 in Oos-Londen geklop het.
Rustyd was die telling 19 - 0. Met dié oorwinning het die Arende vyf ligapunte verdien en derde op die punteleer geëindig.
Dit was 'n maak of breek wedstryd vir die Arende. Die span het sewe keer agter die doellyn gaan kuier. Die Bulldogs het eers laat in die tweede helfte punte aangeteken.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het Maandag gesê die Bulldogs het hul kant gebring en die Arende was goed op die aanval.
Die voorspelers van die SWD Arende Dinsdag besig om te oefen.
Dit was vir die Arende belangrik om met 'n groot punteverskil te wen. As die Arende net-net gewen het sou die span in Welkom moes gaan speel. Logisties pas dit die Arende beter om in Gqeberha te gaan speel. Dit is aansienlik nader aan George as Welkom en beteken dat die Arende nie sover hoef te reis nie.
Die Arende het vroeër vanjaar in sy eerste wedstryd van die reeks teen die Olifante gespeel en met 15 - 34 verloor.
Volgens Moolman het die span in daardie stadium net twee vriendskaplike wedstryde agter die blad gehad. Die spelers moes mekaar nog vind en sedertdien het die span gegroei.
Hy is optimisties dat die Arende môre die bordjies gaan verhang. "Ons sien uit na die wedstryd."
Ben Brinkhuis, waarnemende president van SWD-rugby, het gesê die unie is baie trots op die span. Daar moet onthou word dat die span eers ses weke voor die kompetisie die eerste keer bymekaargekom het.
"Dit het harde werk gekos en ons is trots dat die span in so 'n kort tyd daarin kon slaag om 'n halfeindronde te haal."
"Ons hou styf duim vas dat hulle suksesvol sal wees en die knoop sal deurhaak."
Saterdag se oorwinning beteken dat die span nege wedstryde in die reeks gespeel het, waarvan hulle ses wedstryde gewen en drie verloor het.
Die agterspelers van die SWD Arende Dinsdag besig om op Outeniquapark te oefen. Fotos: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'