OUDTSHOORN RUGBY-NUUS - Marshall Prins gaan Frankryk toe. Die flank wat gekies is vir die Rhino-rugbyspan se toergeld van R40 000 is, danksy die hulp van barmhartige samaritane ingesamel.
Die insamelingsveldtog, wat soos 'n berg voor sy familie gelê het, is nou net 'n klein ou molshopie. Die laaste geld is Vrydag deur lede van Caring Angels ingesamel. Hulle is 'n liefdadigheidsorganisasie in Oudtshoorn.
Mense van George, Haarlem en Mosselbaai het op Caring Angels se hulproep op Facebook reageer en binne enkele ure gesorg dat die R9 000 wat hy gekort het ingesamel is. Een van die heldinne in die mooi verhaal is Lee Aries, 'n onderwyseres van Bridgton Senior Sekondêr waar Prins 'n matriekleerder is.
Aries het ingespring toe Prins se familie op moedverloor se vlakte gesit het. Sy het stoksielalleen meer as die helfte van die geld ingesamel. Aries het ook gesorg dat daar deurentyd geld in die toerorganiseerders se bankrekening inbetaal word.
Samantha Stuurman, Prins se niggie, sê hulle is baie dankbaar vir almal wat ingespring het om te help. "Dit was aan die begin een groot kopseer. Ons het nie geweet wat om te doen nie. Samesprekings met die munisipaliteit en ook die skool het op niks uitgeloop nie. Ons het nie geweet watter kant toe nie."
"En toe gebeur juffrou Lee Aries. Sy het doodeenvoudig alles oorgeneem en begin om geld in te samel. Ons kon net in ongeloof kyk hoe die bedrag al hoe groter word. Ons is baie dankbaar vir iemand soos sy wat uit haar pad gegaan het om Marshall se drome vlerke te gee. Sy was goud werd vir ons."
Stuurman sê hulle het verlede week begin twyfel of hulle die geld voor die sperdatum sou insamel. "Ons het begin stres want ons het net R31 000 gehad. Toe kom Caring Angels op Marshall se pad. Binne 'n paar uur was al die geld ingesamel. Ons kan net dankbaar wees vir sulke wonderlike mense wat Marshall se belange op die hart gedra het.
"Hy is baie opgewonde en sien uit daarna om in Frankryk te gaan rugby speel. Dankie vir almal wat bygedra het. Ons waardeer dit baie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'