OUDTSHOORN RUGBY-NUUS - Spring Roses is deur na die kwarteindrondes van die Presidentsliga nadat hulle Beaufort-Wes United met 68-34 vermorsel het. Die rustydtelling was 33-12 in Roses se guns. Roses het met die skitterende oorwinning eerste in die President Karooliga geëindig. Die wedstryd is op Beaufort-Wes gespeel.
Roses speel Saterdag teen Jaguars van Plettenbergbaai. Roses se B-span het ook deurgedring na die uitspeelrondes en sal met Mosselbaai kragte meet.
Die tuisspan het eerste bloed geruik met n onverdoelde drie. Roses het uit hul winterslaap wakker geskrik en die kaptein, Morné Basie, het 'n verdoelde drie gedruk. Daarna was daar geen keer aan Roses nie. Hulle het soos resiesperde aan die hardloop gegaan en Beaufort-Wes kon nie al die gate toestop nie. Die voor- en agterspelers het pragtig gekombineer met briljante spel.
Roses het na rustyd voortgebou op hul skitterspel en die krane heeltemal oopgedraai. 'n Insinking laat in die tweede helfte het Beaufort-Wes in staat gestel drie vinnige drieë te druk. Die koeël was egter al deur die kerk en die vyf ligapunte alreeds in Roses se guns.
Uitblinkers onder die voorspelers was Basie, wat oudergewoonte van voor af gelei het. Ook Riaan van Wyngaardt en Marlin Tiemie het skitterspel gelewer. Tiemie het ook 'n driekuns behaal. Ander voorspelers wat die oog gevang het was Aubrey Karelse, Denzil Belelie, Elton Oosthuien en Petrus van Vuuren.
Marlin Tiemie, op volle vaart op pad doellyn toe.
Agterlangs het Scott Pretorius skitterspel gelewer. Pretorius het met sy kraglopies beïndruk en twee briljante drieë gedruk. Nie ver agter hom nie was Domenic Smit wat elke keer gevaarlik was as hy aan die bal geraak het. Ook Alfred Veldman, Jeremy Jullies, Seddrick Esau en Claude Fortuin het 'n barshou gespeel.
Roses se driedrukkers was, Tiemie (3), Basie (2), Pretorius (2), Van Wyngaardt (2) en Smit. Smit het agt drieë verdoel.
Roses se B-span was self in 'n verwoestende bui en het hul eweknieë met 51-17 kafgedraf. Hulle drieë is gedruk deur Renaldo Stuurman (3), William Manuel (2), Piet Veldman, Freddie Coetzee, Ben Fortuin en Steven Simmers. Veldman, Fortuin en Randall Meyer het elkeen met 'n doelskop geslaag.
Scott Pretorius, besig met een van sy kraglopies. Foto's: Hein Coetzee
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'