OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Vir die SWD o.20-rugbyspan is dit die week terug na die tekenbord nadat hulle Saterdagmiddag in Middelburg deur hul eweknie van die Pumas met 62-10 afgeslag is.
Powere verdediging en die dun lug was die grootste oorsaak vir hul groot loesing.
Roshwin Abrahams (losskakel) het die Arende se enigste drie gedruk. Abrahams het ook met die doelskop geslaag en Darryl Fortuin (buitesenter) het ‘n strafdoel oorgeklits.
Die Arende sal hul spelpeil moet lig as hul nog die uitspeelrondes van die kompetisie wil haal.
Die manne pak môre die gedugte span van Griekwas om 15:30 op Outeniquapark.
SWD het verlede week in ongure weer op Outeniquapark met hul oorwinning van 16-12 oor die Limpopo Blou Bulle getoon dat hul oor genoeg skietgoed beskik om nog vir ‘n paar groot skokke te sorg.
Die Jong Arende sal Vrydag baie staatmaak op hul agterste driehoek, die vleuels Llyle Metembo, Ronaldo Jansen en Tristan Fourie (heelagter), se spoed en balvaardighede.
In die middelveld behoort hul belowende binnesenter, Darryn Fortuin hul groot planmaker te wees. Hy is ‘n speler wat nog diep spore in Arende-rugby kan trap.
Agter die skrum het hulle in Aylan Schabort ‘n wakker skrumskakel. Sy taktiese skoppies en puik breekslae behoort baie druk op Griekwas te plaas.
Voorlangs sal hul baie staatmaak op hul lotrio, Marco Raubenheimer, Stiaan Grobler (kaptein) en Jarret Tities.
‘n Moontlike Jong Arende span is: Tristan Fourie, Llyle Metembo/ Bradley Kiewitz, Darryn Fortuin, Cullen Cole/ Curtley Scheepers, Ronaldo Jansen, Roshwin Abrahams, Aylan Schabort, Marco Raubenheimer, Jarret Tities, Stiaan Grobler (kaptein), Anri Maree, Jean-Pierre Stopforth, Morgan Douglas, Adriaan-Lee du Preez en Winrich Kennedy.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'