OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Die Oudtshoorn munisipale-rugbyspan het Saterdag in hul eerste wedstryd van die opwindende munisipale-rugbyligatoernooi op Brandwacht-sportterrein net-net met 28-26 teen hul eweknie van Mosselbaai vasgeval.
Hierdie toernooi word in samewerking met die SA Rugbyunie (Saru) en die SWD-rugbyunie aangebied.
Gekombineerde spanne van rugbyklubs onder die vaandel van SWD word uit Oudtshoorn-, George-, Mosselbaai- en Hessequa-munisipaliteite deur die aangestelde munisipale-afrigtingskorps gekies om hul onderskeie dorpe in dié toernooi te verteenwoordig.
Spelers wat die rugby-22tal vir dié wedstryde haal word ook vergoed. Die volstruise het in die eerste helfte by tye warm en koud geblaas en ook heelwat strafskoppe op 'n skinkbord afgestaan wat genadeloos deur Mosselbaai uitgebuit is.
Anver Venter, sterk senter van Oudtshoorn, het sy span se enigste punte in die helfte aangeteken toe hy onder die pale gaan druk het. Hy het was ook suksesvol met die doelskop. Daarenteen het die tuisspan self 'n verdoelde drie en twee strafskoppe deur die pale gejaag om die telling teen rustyd op 13-7 te staan te bring.
Sake het beroerd vir Oudtshoorn gelyk toe Mosselbaai direk na die afskop 'n onverdoelde drie gedruk het. Telling 18-7. Dit moet ook genoem word dat die sterk wind gedurende dié wedstryd skopwerk vir albei spanne moeilik gemaak het.
Na een van Aiden Murphy (agsteman) se vele stormlopies het Oudtshoorn in die hoekie gaan druk. Venter het misluk met dié moeilike doelskop. Toe Wayne Julies (flank) van Oudtshoorn enkele minute daarna oorval vir sy drie wou dit voorkom of die besoekers die momentum van Mosselbaai weggerokkel het. Telling 19-18. Charlton Ewerts het die volstruise se voorsprong gerek toe hy sowat 50 meter vir sy drie genael het vir 'n verdoelde drie onder die pale.
Met die telling op 26-18 was Oudtshoorn redelik goed geplaas om 'n broodnodige wegwedstryd oorwinning te behaal. Die tuisspan het egter in die laaste 15 minute 'n hoër rat gevind en twee onbeantwoorde onverdoelde drieë gedruk wat die wind finaal uit Oudtshoorn se seile geruk het. Oudtshoorn-munisipaliteit se volgende wedstryd is Saterdag om 15:00 teen Hessequa-munisipaliteit op die Bridgton-sportterrein.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'