OUDTSHOORN RUGBY NUUS - Oudtshoorn se rugbyspanne het die afgelope naweek vir groot opwinding gesorg. In 'n Premierligawedstryd het Bridgton in George teen Evergreens gespeel.
Twee Presidentsligawedstryde, Collegians teen Spring Roses en All Blacks teen Willing Hearts, is plaaslik gespeel, terwyl Oudtshoorn na Uniondale moes reis.
Die uitslae is:
Bridgton teen Evergreens
Bridgton het Evergreens Saterdag 5 Mei in George met 27-25 gewen. Bridgton se tweedespan het met 20-35 verloor, terwyl Bridgton se derdespan met 24-10 gewen het.
Bridgton sal die komende naweek in 'n wegwedstryd teen Silver Stars speel.
Oudtshoorn teen Uniondale
Oudtshoorn-rugbyklub het hul rieme styf- geloop teen Uniondale toe hulle met 5-36 teen die Uniondalers kafgedraf is.
Oudtshoorn se tweedespan het met 10-25 verloor. Oudtshoorn en All Blacks sê mekaar dié naweek die stryd aan.
Collegians teen Spring Roses
Collegians se eerstespan het vir goeie hardlooprugby gesorg en Spring Roses op die Plate met 40-15 gewen. Die twee spanne se tweedespanne het in 'n taai wedstryd gelykop (10 elk) van die veld gestap.
Collegians speel dié naweek teen Harlequins op die Infanterieskool se velde. Spring Roses sal op hul tuisveld vir Beaufort-Wes aanpak.
All Blacks teen Willing Hearts
All Blacks het op sy tuisveld vir Willing Hearts met 23-19 in 'n taai stryd gewen. Die rustydtelling was 16-10 in Willing Hearts se guns. All Blacks se tweedespan moes met 10-38 voor Willing Hearts die knie buig.
Beide All Blacks en Willing Hearts se verdediging was van hoogstaande gehalte. Foto: Ebenezer Titus
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'