RUGBYNUUS - Die Collegians-rugbyklub se A- en B-spanne het die manne van Knysna-rugbyklub Saterdag 12 Augustus ore aangesit in opwindende rugby-aksie op die Bridgton-sportterrein, bekend as Die Plate.
In die A-span se wedstryd het Collegians teen halftyd 27 - 5 voorgeloop, met vier drieë in die sak.
Met die tweede helfte van die spel het Knysna se verdediging egter hul sokkies begin optrek en kon Collegians geen verdere punte aanteken nie. Die eindtelling het op 27 - 12 in Collegians se guns te staan gekom.
Die B-spanne se wedstryd was ietwat van 'n wipplank-affêre. Teen halftyd het Collegians met 10 punte teen Knysna se twaalf agter geloop.
In die tweede helfte van die wedstryd sou Collegians na 'n hoër rat oorskakel, so te sê, en het die eindtelling op 20 - 17 in die Oudtshoorniete se guns gestaan.
Collegians B het nes die A-span vier drieë in hierdie Super Liga-B wedstryde ingepalm.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’