SWD, wat aan die land se topliga deelneem kon nie daarin slaag om vanjaar 'n oorwinning te behaal nie.
Die span vestig nou hul hoop op 'n beker in die provinsiale sewestoernooi. Daar is reeds verlede Saterdag met voorbereidings begin toe die span te staan gekom het teen spanne van die Infanterieskool op die weermag se rugbyvelde.
Michelle Weyers, SWD-spanbestuurder, het gesê dat SWD die sewestoernooi, wat in Saldanha gehou word, met selfvertroue tegemoet kan gaan. SWD het in 2011 die toernooi se plaatkompetisie gewen en in 2013 is Nicolene Barendse opgeneem in die SA Sewes oefengroep. "Ons verwagting is om vanjaar die beker-afdeling te wen," het Weyers gesê. ·
Volgens Weyers word daar ook hard gewerk om die sport op voetsoolvlak te ontwikkel.
"Daar is goeie belangstelling onder dogters in die o.16- en o.18-ouderdomsgroepe en groot getalle dogters woon proewe by. Dit is die beginpunt vir die ontwikkeling van die sport en ons poog dat die afrigters van die onderskeie spanne in die streek nou saam met die senior afrigter werk sodat spelers nie verlore gaan in die stelsel nie.
"Ons het 'n Vrouekomitte, waar ek die voorsitter is waar ons oor hierdie aspekte met mekaar kommunikeer. Ons hoofafrigter, Riaan Lameley, is ook by die o.18's betrokke, so hy weet presies watter spelers moontlik volgende jaar by die senior span betrek kan word."
Die o.16- en o.18-spanne neem jaarliks deel aan provinsiale toernooie wat deur Saru aangebied word.
Skole in die provinsie wat dogters rugbyspanne het is Hoërskool George, Beaufort-Wes, Pacaltsdorp, Bridgton Sekondêr, Môrester, Knysna, Heidelberg, Gamka-Oos Primêr en Parkdene.
Volgens Weyers word fondse van SA Rugby beskikbaar gestel vir die ontwikkeling van die sport en belê SWD Rugby ook in die toekoms van vrouerugby.
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.
Die SWD-sewesspan is, voor van links: Nicolene Barendse, Alushka September, Quenitha Jackson, Haroline Rhodes, Jo-Anne Lottering, Atheana Botha, Bianca Figeland en Johanna Davids. Agter: Riaan Lameley (afrigter), Onicca Moaga, Lebeth Oktober, Nonkululeko Mathebula, Elize Arendse, Danielle May, Glenda Jaftha, Christal Williams, Jodene Booysen, Michelle Weyers (spanbestuurder).
ARTIKEL EN FOTO'S: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'