OUDTSHOORN NUUS - Ai ... Wat 'n verskil maak 'n week darem nie. Slegs 'n week nadat Oudtshoorn die vloer met die vroeë gunsteling (George) in die SWD Munisipale-uitdaagreeks gevee het en homself sodoende aangekondig het as dié span om te wen, het die span van Mosselbaai korte mette van hul kortstondige gunstelingstatus gemaak.
Vrydagaand se loesing op die Bridgton-sportterrein van 36-26 was die volstruise se tweede loesing in dié reeks teen die einste Mosselbaai nadat hulle ook drie weke gelede op Brandwacth net-net met 28-26 vasgeval het.
Oudtshoorn bevind hom nou ewe skielik in 'n posisie waar hy albei sy oorblywende wegwedstryde teen George en Hessequa móét wen indien hy vir die eindstryd op 2 November op Outeniquapark in George wil kwalifiseer.
Die eerste helfte tussen Mosselbaai en Oudtshoorn Vrydagaand kan vergelyk word met twee swaargewig-boksers wat met taktiese vernuftigheid die oorhand oor die teenstander probeer kry - soveel so dat na 'n halfuur se spel daar geen punte op die bord was nie.
Die besoekers se fisiese aanslag was van die begin af iets om te aanskou, maar Oudtshoorn het aanvanklik nie 'n tree teruggestaan in die kontaksituasies nie. En dit is dalk hier waar die tuisspan gefouteer het om in 'n spreek-woordelike handdruk-geveg betrokke te raak omdat dit soveel energie tap en maklik kan boemerang.
Maar nou ja, alles is natuurlik baie makliker in retrospek.
Daar was nietemin bitter min te kies tussen die spanne met Mosselbaai wat rustyd met slegs 8-7 voorgeloop het. Oudtshoorn se punte in die eerste helfte is aangeteken deur kaptein en binnesenter, Anver Venter na 'n skitterende breekslag deur sy sentermaat, Jaylen Pretorius (20).
Maggies maar hierdie mannetjie kan speel! Soos die wyle voormalige Bok-afrigter - en speler, Dok Danie Craven altyd gesê het..." 'n ware voetballer in murg en been".
Sy balverspreiding en verdediging teen hardebaard-spelers het wéér beïndruk, maar dis sy natuurlike instink en voorgevoel wat sy grootste bate is - 'n eienskap wat nie te koop is nie.
Pretorius, wat soos verlede week teen George ook 'n drie gedruk het, speel die afgelope twee weke met 'n tipe kalmte wat hy vêr bo sy jeugdige jare demonstreer.
Krediet moet aan Oudtshoorn se afrigter, Keith Meyer, gegee word vir sy waagstuk om hierdie opwindende speler agtereenvolgens in die beginspan in te sluit. Hy is beslis die groot fonds in dié reeks vir Meyer en kan verseker wees dat hy van nou af fyn dopgehou sal word.
Twee vinnige drieë deur die volstruise met die aanvang van die tweede helfte het hul voorsprong na 19-8 gerek met menigte tuisondersteuners wat optimisties was vir 'n potensiële wraakoorwinning.
Mosselbaai het egter in hierdie tydperk Oudtshoorn se lynstane begin ontwrig terwyl die volstruise hulle nou ook in trurat bevind het wat die skrums betref.
Die manne in oranje en blou se agttal het stelselmatig hul spiere gebult en die spreekwoordelike handdruk-geveg begin wen.
Gapings is in hierdie tydperk oral oopgevlek en verbroude duikslae was aan die orde van die dag; soveel so dat die besoekers nonchalant vier verdoelde drieë gaan druk het.
Oudtshoorn het met die wedstryd so te sê in die sakkie vir Mosselbaai sy laaste drie gedruk toe die vleuel Charlston Ewerts deur die kleinste van gapings geglip het om sy slot Everton Manewil oor te stuur vir sy drie.
Die tuisspan se losskakel, Damian January, het verdoel met die wedstryd wat kort daarna afgeblaas is.
Eindtelling 36-26. Oudtshoorn se volgende wedstryd is Saterdag (môre) om 15;00 teen George (Blanco) op die Blanco-sportterrein.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'