OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Charlston Ewerts (29), deurwinterde vleuel van Bridgton-rugbyklub, het Saterdag weer opnuut bewys dat daar nog sommer hope woema in sy bene is toe dié klein buks 'n allemintige vyf drieë in die SWD Munisipale-uitdaagreeks vir die Oudtshoorn-rugbyspan teen hul eweknie van Hessequa gedruk het.
Hierdie drieë-vraat is al reeds meer as 13 jaar 'n gedugte speler vir sy klub en palm jaarliks ook die toekenning vir die meeste drieë in. Oudtshoorn het dié stryd op die Bridgton-sportterrein oortuigend met 75-26 gewen.
Sowat 60% van Oudtshoorn se munisipale-rugbyspan kom uit Bridgton-rugbyklub se geledere omdat dit 'n vereiste van SWD is dat die meerderheid spelers uit Premierligaklubs moet kom. Bridgton is tans die enigste klub op Oudtshoorn wat in dié elite liga speel.
Die res van die spelers word uit die Presidents - en Kusstreekliga gekies. Alle spelers wat die 22-tal vir hul onderskeie spanne haal, word ook finansieel vergoed. Om hierdie groot oorwinning van Oudtshoorn in perspektief te plaas moet 'n mens in ag neem dat George verlede week harde bene moes kou om die einste Hessequa met 46-31 te klop.
George het tans sewe spanne wat in die elite SWD Mic Fin Premierliga meeding - meer as enige ander dorp in die streek. Om alles te kroon het een van dié dorp se spanne, Crusaders ook vanjaar met die titel in hierdie liga weggestap. Nog 'n Premierligaspan van George (Pacaltsdorp), Evergreens was die naaswenners.
Die logiese gevolgtrekking kan dus gemaak word dat George die oorweldigende gunstelinge in die munisipale-uitdaagreeks is.
Ewerts duik in die hoekie oor vir een van sy ses drieë.
Keith Meyer, afrigter van die Oudtshoorn-munisipale span, het gesê dat sy span verlede week ongelukkig was om hul wedstryd in Brandwacht teen Mosselbaai naelskraap met 28-26 te verloor. "Ons het egter vandeesweek hard geoefen en sekere kombinasies beproef wat Saterdag vir ons gewerk het.
Daar is geen twyfel by my dat die groep spelers wat ek gekies het, koning in dié reeks kan kraai nie.
Hy het ook bygevoeg dat hy eers na die opponente sal kyk voordat hy sy span sal saamstel - basies 'n "horses for courses" benadering.
Puntemakers van die Oudtshoorn-munisipale span: Die vleuel Charlston Ewerts druk vyf drieë met die regtervleuel, Nathan Baartman wat 'n driekuns behaal het. Riaan van Wyngaard (flank), Marchall Japhta (stut) en Wayne Jullies (flank) het elk een drie gedruk.
Damian Januarie (losskakel) was in die kol met drie doelskoppe. Die plaasvervanger, Gino van Vuuren was ook met drie doelskoppe suksesvol.
Oudtshoorn se volgende wedstryd is Saterdag (môre) teen die einste gunstelinge (George). Hierdie wedstryd sou op Dysselsdorp plaasgevind het as deel van SWD se beleid om rugby na die kleiner dorpies te neem.
Dit is egter afgestel omdat die speeloppervlak nie op standaard is nie.
Gevolglik is die wedstryd verskuif na die Bridgton-sportterrein. Afskoptyd is vanaand ( Vrydag) om 20:00.
Verdedigers van Hessequa probeer Ewerts tevergeefs keer. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'