RUGBYNUUS - Die Oudtshoorn-rugbyklub het Saterdag 5 Augustus hul 140ste bestaansjaar gevier met hul A-span wat 'n oorwinning van 62 - 19 teen Ladismith-rugbyklub behaal het.
Die SWD Eerste liga B Oos-wedstryd, wat by die Oudtshoorn-sportterrein (Rec) gespeel is, het gesorg vir rugbyaksie uit die boonste rakke.
Die Oudtshoorniete was vandat die fluitjie vir die begin van die wedstryd geblaas het op die aanval, en het Ladismith skaars kans gegee om met die bal in hand te speel.
Met elke oomblik wat die Oudtshoorniete in besit van die bal was het dit gelyk asof hulle vasberade was om oor hul teenstanders se doellyn te duik - byna elke kans is aangegryp om punte aan te teken.
Teen halftyd was die telling reeds 31 - 7 in Oudtshoorn se guns.
Ruhan Els, Oudtshoorn se heelagter, het sy stempel op die wedstryd afgedruk en teen die tyd wat die eindfluitjie geblaas het, vier keer agter Ladismith se doellyn gekuier. Een van die vleuels, Lochner Jantjies het twee keer gaan druk. Buiten hierdie twee het Jacques-Louis van Zyl, Ruan Tolken, Charl du Plessis en Reinardt Bergh elkeen een drie gedruk. Ron van der Wetering was byna dodelik met die skopskoen en het altesaam 12 punte aangeteken.
Die suksesvolle wedstryd en die herdenking van hul 140ste bestaansjaar is afgesluit met 'n dans en steakete by Route 62 Bar & Grill in Baron van Reedestraat.
'n Speler van Oudtshoorn-rugbyklub duik oor die doellyn.
Oudtshoorn-spelers omsingel 'n Ladismither, met geen hulp vir laasgenoemde in sig nie. Foto's: Stefan Goosen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’