OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-rugbyklub se eerstespan het verlede Saterdag met skitterende hardlooprugby gewys dat hulle nie ligtelik opgeneem kan word in die Presidentsliga wat eerskomende naweek afskop nie.
Die wit lorrie met die rooi wiele, soos hulle jare gelede gedoop is, het Ceres in 'n vriendskaplike wedstryd op Hoërskool Oudtshoorn se sportterrein met uithalerspel in alle fasette oorheers en maklik met 70-3 gewen.
Rustyd was die telling reeds 28-0.
Oudtshoorn het in die proses 12 drieë gedruk. Keith Meyer, Oudtshoorn se hoofafrigter, het na die wedstryd gesê: "My span het soos 'n stoomtrein begin deur reeds in die derde minuut oor te val vir 'n pragdrie na 'n skitterende beweging vanaf die vaste spel."
Meyer sê die grondslag vir Oudtshoorn se oorwinning is deur hul genadelose pak voorspelers gelê.
"Die lostrio Emile Lambrecht (agsteman), Natahan Stoffels en Hilton de Laan (beide flanke) was aan die spits van die voorspelers se goeie spel.
In die middelveld het Keith Marx (senter) die oog gevang met sy kraglopies, terwyl die skakelpaar van Jevanho van Vuuren (skrumskakel) en Fenando Arends (losskakel) nog in 'n gedugte eenheid kan ontwikkel as hulle voortgaan om sulke uithalerspel te lewer."
Volgens Meyer was Oudtshoorn in die skrums veels te sterk vir hul opponente. "Die slotte, Nagel Niemandt en Ruaan Tolken, het verseker dat Oudtshoorn goed vertoon.
"Daar lê nog harde werk voor en ons kan nie op ons louere rus en dink een wedstryd maak 'n seisoen nie. Die liga gaan taai wees en daar is geen maklike resep vir sukses nie."
Puntemakers
Oudtshoorn: Drieë - Emile Lamprecht (2), Shaun van der Schyff (2), Nathan Stoffels, Ruaan, Nagel Niemandt, Jevanho Van Vuuren, Keith Marx, Hilton de Laan Patrick Olckers en Fredwill Hendricks. Doelskoppe: Amla Tolken (5).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'